Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die Heer troos die Nubiërs, wat nie geroep is tot die kindskap van God nie

15 Die aanvoerder sê: “Ja, Heer, alles is nou vir my duidelik en my siel voel nou asof hy orals volkome daarin tuis is! Maar ek merk by U leerlinge dat hulle byna almal nie hierdie beeld van die drie soorte spieëls bepaald goed begryp het nie! Ek dank U innig vir U uitleg, wat aan al my lewensgevoelens volkome beantwoord; maar soos gesê, ek vind dit onaangenaam om te sien, dat juis diegene wat dit alles die beste sou moes begryp, omdat hulle oorspronklik tot die kindskap geroep is, dit alles die minste skyn te verstaan!”

[2] Ek sê: “Daaroor hoef jy jou weinig of heeltemal nie te bekommer nie! As jy dit verstaan, waaroor sou dit jou dan verder bekommer? Hulle sal dit dan wel verstaan wanneer die tyd vir hulle daar is; want hulle sal nog langer by My wees, terwyl julle môre na julle land sal vertrek!

[3] Dit is immers van ouds af `n goeie gebruik by alle volke, dat daar eers gedink word aan die vreemde gaste voor die kinders van die huis. Die kinders sal daardeur nie te kort kom nie! Hierdie saak kon voorlopig aan julle maklik verstaanbaar gemaak word, omdat julle al bekend was met die wese van die spieël; maar van My ware leerlinge en kinders het niemand nog ooit `n ander spieël gesien as net die van `n rustige wateroppervlak nie. As Ek egter hierdie saak nader aan hulle sou wou uitlê, dan sal Ek verstaan hoe om, vir `n beter begrip van die saak, net so maklik die betrokke spieëls te verskaf, soos wat Ek Self verstaan het om die mensebrein te skep en soos wat Ek dit verstaan het om aan die bejaarde Markus hierdie nuwe huis met alle toebehore te skep.

[4] Wees dus vanweë My leerlinge en My ware kinders nie ongerus nie; want Ek Self gee aan jou die versekering dat hulle almal nie tekort sal kom nie. Want vreemdes kom en gaan weer; maar die kinders bly tuis! Het jy dit ook verstaan?”

[5] Die aanvoerder sê: “En of ek dit verstaan het, maar daardeur het my siel nie vroliker geword nie; want dit klink uit U mond so vreemd om met die naam “vreemde” genoem te word! Maar ons sal dit ewig nie kan verander wat U van ewigheid reeds so bepaal het nie en ons is U as vreemdes tog gloeiend van liefde dankbaar vir al hierdie ook nooit verdiende, oorgrote barmhartigheid wat U aan ons hier bewys het!”

[6] Toe het daar trane in die aanvoerder se oë gekom, net soos by sy dienaar, en JARAH het heel saggies aan My gesê: “Heer en Vader van alle mense, sien, beide More huil!”

[7] Maar EK sê: “Dit maak nie saak nie, My liefste dogtertjie, want juis daardeur word hulle kinders van My kinders, wat ook nie uit die huis van die grootvader gestoot sal word nie!”

[8] Toe beide More sulke woorde uit My mond verneem het, het hulle voor My op hul knieë gesink en luid gesnik, maar nou van vreugde.

[9] En na `n rukkie het die aanvoerder luid uitgeroep: “O God vol Geregtigheid, Wysheid, Liefde, Mag en Ontferming, met `n boetvaardigheid van my hele wese dank ek U namens my en my volk dat ons onsself ten minste kinders van U kinders mag noem!”

[10] EK sê: “Wees gerus, My vriend! Wie Ek aanneem is geen vreemde meer vir My nie! Jy sien hoe die aarde vol berge is en daar is hoë en lae berge daarby. Die hoës is weliswaar die eerste en eintlike oerseuns van die aarde, en die laes het eers met die verloop van tyd as afsettings van die hoës ontstaan, maar sien, terwyl die allereerstes en allerhoogstes hul toppe met ewige sneeu en ys versier, suig die lae nakomelinge voortdurend die melk van die liefde uit die bors van die groot moeder!

[11] Ek sê vir julle: “Wie liefde het en liefde gee, is My kind, My seun, My dogter, My vriend en My broer! Wie die liefde egter nie het nie en dus ook nie skenk nie, is `n vreemde en word dan sodanig behandel. As Ek jou egter My vriend noem, dan is jy geen vreemde meer nie, maar behoort jy aan My huis deur My woord, wat jy getrou in jou hart opgeneem het. Maar gaan nou getroos heen en verkondig dit alles aan jou broers!”

[12] Die aanvoerder gaan nou met sy dienaar na sy metgeselle en verkondig aan hulle alles wat hy nou van My gehoor het en almal het letterlik begin juig van vreugde oor hierdie berig, wat vir hulle so uitermate troosryk was. Ons het hulle nou aan hul geregverdigde vreugde oorgelaat. Maar Cirénius, wat die uitleg met die spieëls ook nie al te goed begryp het nie, hoewel hy `n baie goeie insig gehad het in die verskillende spieëlsoorte, het My gevra of Ek hom nie daaroor iets meer wou vertel nie. Maar Ek het hom gemaan om nog `n bietjie geduld te hê, omdat ons dit weldra met `n afvaardiging uit Césarea-Philippi, wat treurig daar uitgesien het, te doene sou kry. En Cirénius het hom daarmee tevrede gestel.