Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus oor die Indiese priesterstande

28 ROCLUS: Hierdie antwoord het my as Romeinse burger vererg en ek het aan hom gesê: “Vriend, sou jy my ook dan so antwoord as ek aan die hoof van tien maal honderdduisend soldate hierdie vraag met `n streng gesig op lewe en dood aan jou sou gestel het en jou sou beveel het om al hierdie arme sukkelaars van boetelinge oombliklik van hul boetedoening te onthef?” Dit het die vrome man ietwat verbaas en hy het my met `n groot vraende blik aangekyk en dit het geskyn asof hy diep nagedink het oor wat hy my op hierdie vraag moes antwoord.

[2] Maar ek het met `n baie ernstige gesig aan hom gesê: “Ja, ja, bekyk my maar, sodat jy my later aan die hoof van `n uiters magtige leër gou en makliker sal herken wanneer ek die bose, versterkte fort van julle gruwelike god en sy opperpriester sal aanval en verwoes!” Toe het ons, eers so vriendelike, sieleherder hom vererg, `n grimmige gesig getrek en aan my gesê: “Jou waansinnige sterfling, verwoes jy eerder die maan as die vesting van Lama! Maar waar is jou leër?”

[3] Ek sê: “Dit sal ek nie aan jou bekendmaak nie! Een gebaar van my is egter voldoende en dan sal jy, bose mens, nog vroeg genoeg ondervind waar my leër opgestel is! Ek sê aan jou: As jy my nou oor die Lama en oor sy opperpriester en oor julle verbintenisse met hom en oor die rede van hierdie skandelike mensemishandeling nie alles volledig volgens die waarheid vertel nie, laat ek jou gryp en twintig jaar lank op alle maniere wat my fantasie my sal ingee, martel, sodat jy ook eers kan proe hoe hierdie arme boetelinge tevrede moet wees onder sulke ongehoorde kwellings en martelings!”

[4] Nou het die vrome man gesien dat daar met my nie te skerts was nie en hy het begin, hoewel sigbaar met teensin, om met die waarheid vorendag te kom, maar wel vooraf met die opmerking en versoek, dat hy dan met my wou saamgaan, omdat hy andersins nie meer seker sou wees van sy lewe nie, wat ek hom dan ook belowe het en waarop hy dadelik as volg die geheim prysgegee het:

[5] “Daar is by ons wel `n handskrif, wat nog afkomstig moet wees van die aartsvaders van hierdie aarde. Die opstellers daarvan moet volgens die opdrag van die hoogste god, wie se ware naam net die opperpriester ken, `n sekere Kenan, Jared en Henog wees. Ook van Nohai en Minihal is uitgebreide mededelings in die groot wêreldboek van die boeke voorhande; maar ons ken nie die inhoud daarvan nie en kan ook nooit `n blik daarin werp nie, omdat die pynlikste doodstraf daarop ingestel is.

[6] Van ons onderpriesters het niemand nog ooit die Lama gesien nie! Jy kan al van baie barmhartigheid en geluk spreek as jy in jou lewe ook maar eenmaal die opperpriester van die Lama te siene gekry het. Van die Lama self, is daar heeltemal geen sprake nie! Die opperpriester dra kennis van die lewensomstandighede van al sy onderdane en van alle onderhorige vorste, oor wie hy net so gebied soos `n meester sy dienaars. Hulle moet hom in alles wat hy wil, gehoorsaam, andersins kos dit hom net één woord aan sy volke, wat blindelings en rotsvas in hom glo en hul hele wel en wee enkel en alleen maar van hom verwag en hulle staan op en bring alle vorste met die grootste vreugde van die wêreld om, omdat dit hulle die hoogste welgevalle van die Lama sou oplewer. Die vorste is baie goed op hoogte daarvan en daarom bewys hulle in hul eie belang aan die opperpriester alle denkbare eer en offer jaarliks aan hom groot somme goud en silwer en verryk hom nog bowendien met die mooiste kuddes.

[7] Dikteer hy aan die een of ander `n liggaamlike boetedoening, waarvan ook geen vors gevrywaar is nie, dan kan die vorste dit met goud of kosbare edelstene en pêrels afkoop, of hulle kan deur middel van `n versoek toestemming vra of iemand anders, wat baie vroom is en wat nog nooit boetedoening opgelê is nie, vir `n vors as plaasvervanger sy boetedoening kan oorneem, as hy dit wil; want dit word heeltemal aan die vrye wil van die vrome oorgelaat, net so ook die vasstelling van die vergoeding vir die plaasver­vanging, wat by sulke geleenthede nooit te gering is nie. Want dergelike vroom plaasvervangers verkry reeds vooraf by die boeteverkondigers betroubare raad en kan die opgelegde, uiters pynlike liggaamstraf van die vors in `n willekeurige ligter straf omvorm, wat deur die opperpriester van die Lama aanvaar word as geldig vir die vors as hy aan die boeteplaasvervanger `n voldoende groot som daarvoor betaal het, waarvan die spesifieke plaasvervanger twee derdes aan ons priesters moet betaal. By die oplegging van `n boete moet altyd by die geheime norm gehou word, dat baie selde aan arm mense `n boete opgelê word; en as dit wel opgelê word, dan behoort dit altyd tot die allerligste soort. Groot en swaar boetes word gewoonlik net aan heel rykes en welgesteldes opgelê, wat hulle, hetsy ten dele of ook wel geheel vry kan koop van die boete-oefening, as hulle dit wil doen. Maar behalwe `n vors, koop iemand homself selde heeltemal vry, omdat so `n volle afkoop hom sy hele vermoë sou kos. Die gierigaard verrig die boetedoening dan wel self en martel homself liewer op die ergste maniere, as om sy goud of silwer af te gee. Het diegene aan wie `n boete voorgeskryf is, uiteindelik `n baie mooi dogter of ook wel `n baie knap goed geboude seun, dan kan hy hulle in plaas van die goud en die silwer as offer aan die opperpriester bring, natuurlik met `n klein bruidskat en met sierade en ryk kleding; want dit alles kan die opperpriester en sy tallose dienaars ook goed gebruik en vir allerlei dienste aanwend. Want hy besit vir homself, merendeels in die berge en op die hoogtes, enorme groot landerye wat so uitgebreid is, dat `n mens jare lank rond sou moes trek voordat jy alle landerye gesien het wat aan die hoëpriester as `n geskenk van Lama behoort.”