Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 151

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die tempelmoraal van die Fariseër. Moses se wonderwerke deur die Fariseër belig

151 DIE FARISEËR neem `n flinke aanloop, gaan heeltemal reg staan en begin as volg te spreek: 'Hoogste gebieder! U weet baie en U verstand skitter soos die suiwerste diamant in die sonlig; maar ook ek weet iets, al loop ek daar, soos wat by ons die gewoonte is, nie altyd mee te koop nie, want dit mag ek eintlik ook nie doen nie! Maar noudat dit nie anders kan nie, moet dit ook bekend gemaak word! As iemand op hierdie liewe aarde eenmaal by `n instituut hoor en helaas deur geboorte, gewoonte, wet en deur die aardse omstandighede gedwing is om terwille van sy liewe maag `n eed van getrouheid af te lê, dan het mens daardeur op hierdie wêreld geestelik al so goed as gesterf. In die begin nog wel nie heeltemal nie, maar so langsamerhand steeds meer!

[2] Want as mens openlik sonder onderskeid met alle aardse magsmiddele voortdurend en altyddeur gedwing word om knolle in die plek van lemoene te verkoop, dan hou al die denke op! Mens moet homself vanweë elke helder gedagte gewoonweg gaan vervloek en sê: 'Verdwyn, suiwer lig van die hemele! As ek daartoe verdoem is om `n duiwel te wees, dan is ek ook `n duiwel! Listig of dom, dan maak dit werklik nie meer saak nie! As ek `n knol in die plek van `n lemoen moet wees, dan is ek dit; ek kan so `n dergelike ingeslane verhouding onmoontlik nie verander nie!'

[3] Met die verloop van tyd raak die mens geheel en al tuis in sy duiwelse sake en dink by homself: 'As jy as `n nar gebore is en ook as sodanig opgevoed word, bly dan wat jy is! As jou maag maar in orde is, dan is alles verder ook goed en wel! Eet en drink en geniet van die lewe solank en so goed as wat daar maar van te geniet is!' Breek die laaste dag dan, die laaste uur, dan word alle bande losgemaak en alle wette het vir hom wat in sy niks teruggekeer het, vir ewig opgehou om te bestaan!

[4] Waar die volkome verganklikheid van alle bestaan tuis is, reik die leuen en waarheid elkeen op allervriendelikste wyse die hand. Met die vasstaande en ware vooruitsig maak dit nie saak onder watter narreskap `n mens die lewe op hierdie aarde gelei het nie. Solank `n mens egter leef, moet `n mens tog vanweë die eie aardse welgevinde luukse met sorg alles so noukeurig moontlik van hom af weghou wat die kort stukkie lewe bitter en onaangenaam kan maak; al die ander is fantasieë en drogbeelde. Wie die lewe vir iets hoërs aansien, bedrieg homself maar net.

[5] Hierdie mening stel ek egter nie as iets wat sy oorsaak in die natuur van die dinge het nie, maar wat slegs `n gevolg daarvan is, omdat byna elke mens wat van meet af aan tot `n bepaalde kaste van wêreldse narre behoort, wel hierdie mening moet huldig, en dit ten slotte sy eie moet maak, omdat hy nie anders mag dink, spreek en handel as die stereotipe wette wat die kaste aan hom voorskryf nie. Ek kan daar één of duisend maal duidelik van oortuig wees dat dit met die Nasarener presies so is soos wat U my juis nou net verkondig het, maar wat het ek daaraan? Solank ek `n geswore lid van die kaste is, kan ek tog seker niks anders doen as om saam met die ander uit volle bors te roep: 'Weg met Hom! Want Hy bring ons instituut in gevaar en verminder die noodsaaklike inkomste!'

[6] Baie heimlik kan ek inderdaad by myself dink: 'Die hele kaste wil dit so hê, en het my deur die lot tot haar instrument gemaak! En dus trek ek dan ook op en handel blindelings volgens die verkreë voorskrifte, waarbo of waaronder ek niks volgens my eie mening kan en mag onderneem nie!' En nog heimliker dink ek by myself: 'Is daar met Hom wat ons moet vervolg, werklik iets besonders aan die gang, dan sal hy gou met ons klaarspeel en dan sal ons as verloorders ons heilige vertrek moet neem; maar as hy maar net weer `n nuwe opsweper is wat ons al duisend keer meegemaak het, dan kom hy nog goed daarvan af as `n mens hom maar net kan aanvat! Want wat beoog hy dan? Niks anders as die instelling van `n nuwe en miskien nog erger kastestelsel nie!'

[7] O, in die begin sien alles baie goddelik daaruit! Kyk maar na die lewe van Abraham en sy eerste nakomelinge! Mens sien die Godheid dikwels selfs sigbaar met hulle omgaan en hulle op die korrekte weg lei, en let wel, ons was natuurlik nie daarby nie! Maar in die tyd van Moses, hoe het dit toe daar uitgesien met die kinders van Abraham! Moses was weer iemand wat die ou wyshede van Egipte behoorlik goed moes bestudeer het! Hy was in al die swak aspekte van die Egiptiese hof ingewy, het waarskynlik begeerte gehad om self heerser van die ryk te word en daaroor ruim hy die legitieme prins van die Farao uit die weg.

[8] Die eerste plan misluk. Hy slaan op die vlug en versin `n ander plan om die volk wat aan hom verwant was, maar wat origens dieper gesink was as diere, deur geheime propagandiste flink op te rui teen die Farao wat deur sy wellus sy manlike krag verloor het. Toe hy verneem dat sy volk klaar was vir die stryd, kom hy self, uitgerus met sy enorme toormag, en begin aan die koning te dikteer. En aan sy volk wat nog wel vae voorstellings gehad het van die vroeëre goddelike toestand van die ou patriarge, bied hy hom aan as `n deur JaHWeH gestuurde en doen allerlei onbegryplike wonderwerke wat vir die volk baie oortuigend was, en dus volg die volk hom soos wat `n kudde skape die belhamel volg.

[9] Hy het baie goed geweet dat die see die eienskap het om daagliks tweemaal te styg en te daal. Lank vantevore het hy uitgesoek op watter plek daar deurgegaan moet word. Die hele baai het deurgaans net `n breedte van bykans twee uur. As die water van die see laag staan, kom daar in die middel van die bog `n stuk vaste klipperige grond vry met `n breedte van meer as `n uur deurgaans; dit is altyd drie uur lank geheel vry van water en vir die reisigers `n goeie brug om oor te steek as die see nie deur `n storm opgestu word nie. As `n mens gou loop, kan `n mens selfs binne `n uur daardeur gaan, waarna `n mens hom dus langs die kortste pad direk in die Arabiese woestyn sal bevind wat die mens andersins oor land nouliks in vier tot ses dae kan bereik, omdat die see hom nog meer ure oor die hele rif uitstrek en taamlik diep is.

[10] Moses bereken dit baie knap, omdat hy soos geen ander aan die hof van die Farao baie deeglike kennis besit het van die gebied. Hy voer sy groot menigte vinnig oor die rif na die Arabiese woestyn en die baie ruwe bergagtige streke toe, waar niemand waarskynlik besittings gehad het nie, behalwe miskien sy skoonouers. Daarom was hierdie omgewing met haar ander wonderlike natuurlike eienskappe beslis wel bekend aan hom, en ons profeet het geweet om dit verseker en goed te benut.

[11] Maar genoeg hieroor; laat ons selfs na die Israeliete kyk wat die see oorgesteek het, en dan sien ons hulle as`t ware op die vleuels van die wind aan die einde van die pad kom, wanneer die Farao, nou in woede en boosheid ontstoke, sy leër die bevel gee om langs dieselfde weg die Israeliete agterna te storm. As die Farao vroeër gekom het, dan sou ons goeie Moses seker nie heelhuids daarvan afgekom het nie; maar Farao se aards-elendige houding en die allerlei hindernisse wat uit die weg geruim moes word, het sy leër opgehou. Moses kry `n belangrike voorsprong en ontkom baie voorspoedig aan die vyand wat hom agterna sit. Toe die Farao nou Moses via dieselfde rif agterna gaan, begin die see, toe hy net die middel van die rif bereik, soos gewoonlik baie vinnig te styg en oorspoel die leër van die Farao met sy golwe wat verstaanbaar sy versekerde ondergang daarin vind."