Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die afvaardiging uit Césarea

16 Nouliks het Ek dit gesê of daar het alreeds twaalf mans om die ou huis geloop gekom; dit was ses Judeërs en ses Grieke. Die Caesareërs wat nou in `n paar hutte gekampeer het, het naamlik deur hul herders en vissers die nuus gehoor, dat die Romeinse goewerneur `n groot stuk land aan die bejaarde visser Markus geskenk het, en dat sy volledige eiendom omring was met `n ontoeganklike muur. Die Caesareërs het egter alle grond in die verre omtrek rondom die stad as munisipale eiendom beskou en wou nou van Cirénius hoor met watter reg hy hom aan die eiendom van die stad kon vergryp het, omdat die stad daaroor steeds sowel aan die Romeine en ook aan Jerusalem belasting betaal het. Ek het aan Cirénius egter al vooraf heimlik `n aanwysing in sy hart gegee en hy het dan ook al geweet waaroor dit sou gaan voordat iemand van die afvaardiging nog sy mond oopgemaak het en hy was daardeur ook voldoende voorbereid op die antwoord, wat hy aan die baie vrypostige, treurige afvaardiging moes gee.

[2] Na alle buigings het daar `n vername Griek, genaamd ROCLUS, na Cirénius gestap, sy mond oopgemaak en gepraat: “Uiters regverdige, streng en deurlugtige meester, meester, meester! Die saak waaroor ons na u toe kom, gaan daaroor dat aan Markus, die bejaarde krygsman en nou visser, deur u vrygewigheid, `n aansienlike deel van ons munisipale grond, waarvoor ons baie belasting betaal, as omheinde eiendom in sy hande gegee is. Deur ons herders wat bedroef was oor die mooi stuk land, het ons hierdie berig wat ons ervaring nog droewiger laat uitsien, `n uur gelede te wete gekom.

[3] Welke ongeluk ons Caesareërs, wat vroeër so welgesteld was, getref het, daarvan getuig die hier en daar nog rokende ruïnes. Ons is nou in die ware sin van die woord die armsaligste bedelaars van die wêreld. Geseënd is hulle wat by die groot brand iets van hulle besittings kon red! Ons arme saters was daardie geluk nie beskore nie, want die vuur het so gou versprei dat ons en nog baie van ons, die gode nog baie dankbaar moet wees dat ons ons eie lyf kon gered het. Sommige vee is nou ons hele besitting, ons het nou weer nomades geword; maar hoe kan ons selfs die laaste besitting behou as u vrygewigheid vir gebore Romeine ons beste grond van ons wegneem en as volledig onaantasbare eiendom omhein vir hulle wat die voorreg het om in u hoë guns te staan?!

[4] Ons wil u daarom maar net smekend vra, of Markus, wat nou so oorgelukkig geword het, aan ons `n skadevergoeding sal moet gee of nie! So heeltemal sonder skadevergoeding sou hierdie onteiening in ons huidige, benarde situasie tog wel iets wees wat in die geskiedenis van die mensdom moeilik êrens sy gelyke sou vind. - Allerhoogste meester, wat kan ons armes verwag?”

[5] CIRÉNIUS sê: “Waar praat julle en wat wil julle hê, brutale halfmense?! Hierdie stuk grond het sedert vyfhonderd jaar aan hierdie berg en hierdie vissershut behoort en was volkome waardeloos omdat dit `n pure sand- en klipagtige grasvelde was. Daarby het egter nog twintig morge land behoort wat nie omhein was nie en dus aan die stadsmunisipaliteit oorgelaat was om vry en na willekeur daaroor te beskik. Bowendien het julle julleself nou aan my voorgedoen as volslae armes en bedelaars, wat al hul besittings verloor het! Wat moet ek nou oor die boosaardige leuenagtigheid van julle sê?! Ek weet wel dat julle huise in die stad deur die vuur verwoes is en ek weet presies hoe groot julle skade is; maar ek is ook bekend met julle groot besittings in Tirus en Sidon en ek weet dat juis jy, Roclus, daar soveel skatte besit, dat jy jou sonder meer met my sou kon meet! En dieselfde geld vir al elf wat nou saam met jou hierheen gekom het!

[6] Julle twaalf het nog soveel skatte en rykdom, dat julle alleen die stad wat deur die vuur verwoes is, minstens tienmaal van vooraf sou kon opbou; en tog kom juis julle om julle oor julle armoede te bekla en my van onreg te beskuldig omdat die suiwer regmatige eiendom van die bejaarde Markus, wat in elke vesel van sy lewe `n man van eer is, van julle eiendom afgesonder is! Sê maar watter naam ek aan julle moet gee!

[7] Gaan en bekyk die grond wat Markus buite die tuinmuur nog volledig in besit het! Dit is nog ruim twintig morge grond. Ek verkoop dit aan julle vir tien klein silwer muntstukke. As julle vind dat die grond dit werd is, betaal dan die tien klein muntstukke en die grond is julle s’n! Behalwe in die Sahara in Afrika sal jy nêrens op die goeie groot aarde `n slegter stuk aardkluit vind nie, want behalwe sand en `n dooie klipagtige laag, en hier en daar `n kwynende distelstruik, sal julle niks vind nie!

[8] Maar julle is ryk mense, julle kan van ver weg grond laat bring en daarmee hierdie klein woesteny bedek en tot `n vrugbare land maak! Ook kan julle van ver weg `n baie duur waterleiding aanlê om op hierdie manier die bewerkte grondstuk in die somers, wat hier gewoonlik droog is, behoorlik te besproei en dan het julle `n heel behoorlike stuk land regmatig in julle besit gekry! Maar met julle uiters ongemotiveerde aansprake sal julle by my ewig niks bereik nie en ek sal dit met feite aan julle bewys, dat volgens julle huidige uiters onregverdige versoek altyd net die sterkere die reg aan sy kant het! Wat wil julle nou doen?”

[9] Behoorlik verskrik deur die kragtige taal van die oppergoewerneur, sê ROCLUS: “Heer, meester, meester! Dit is nie onsself wat die aansprake wil laat geld nie, maar ons is net verteenwoordigers van diegene wat in die verwoeste stad in volle erns `n jammerlike bestaan lei. Ons het alreeds baie vir hulle gedoen en die hele stadsmunisipaliteit, wat nou totaal verarm is, het ons net uit dankbaarheid al die omliggende grond volledig in eiendom gegee en aan ons gesê dat ook hierdie grond aan die see hulle munisipale eiendom is!

[10] In daardie geval het ons toe gedink dat ons dit beslis nie onverskillig kan laat dat iemand op onbevoegde wyse `n deel daarvan neem, bewerk en die bewerkte deel dadelik laat omhein met `n ontoeganklike, stewige muur en dit met `n werklik sprokiesagtige snelheid, wat natuurlik vir julle Romeine wat deur die oorlog baie bedrewe is, wel moontlik kan wees, omdat julle verstaan hoe om in die veld, dikwels binne `n kort tydjie, `n laerplek vir honderdduisend man op te stel! 

[11] Noudat dit egter heeltemal anders met die saak gesteld is, sien ons eenvoudig van ons eis af en gaan ons na ons huise! Die nog oorblywende twintig morge land wat buite die muur lê, kan die bejaarde, opregte burger ook nog vir homself daarby laat omhein en ons verklaar hierby dat hy nòg deur ons, nòg deur die stadsmunisipaliteit ooit in sy vrye besit gesteur sal word nie. Maar ons glo tog wel dat hy aan die stad, vanweë sy alleenreg as visser, voortaan die van ouds gebruiklike tiende moet betaal!”

[12] CIRÉNIUS sê: “O ja, maar julle moet bewys wanneer die stad hierdie reg verkry het! Aan my is in hierdie opsig geen dokument bekend, omdat ek tydens my huidige, nou reeds byna vyf-en-dertig jaar lange dienstyd nooit iets daarvan gesien het nie. Want eers onder my het die vroeëre dorp stadsregte verkry en wel ter ere van my broer wat Rome meer as veertig jaar bestuur het. Aan my is derhalwe alle plaaslike omstandighede van hierdie stad van julle presies bekend! Van `n visserstiende wat hierdie stad wettig te vorder sou hê, weet ek niks nie; wel weet ek dat mens dit onwettig uit naam van die stad gevorder het en dat my Markus verplig was om dit steeds aan julle te betaal, waarvoor hy, indien hy kwaadwillig sou wou wees, `n volledige terugbetaling sou kon eis, wat hy egter nie sal doen nie, omdat hy `n te eerlike en te goeie mens is. Maar dat hy in die vervolg aan julle geen onregmatige tiende sal betaal nie, daarvoor staan ek in!

[13] In plaas daarvan om aan julle nou enige reg te gee, maak ek aan julle as afgevaardigdes van hierdie stad bekend dat ek uit hoofde van my mag, uitgaande van die keiser, die bejaarde Markus benoem tot owerste oor die stad en sy wye omliggende gebied en hom beklee met alle mag wat ek self het en dat in die vervolg net hy oor julle en al julle aangeleenthede volledig reg mag spreek en dat julle almal aan hom die verpligte belasting moet betaal! Dit sê ek nou mondelings aan julle, maar hy sal homself met, volgens die wet, die dokumente, die staf en die swaard en die goue weegskaal van die geregtigheid wettiglik bewys. Net in heel besondere gevalle sal `n beroep op my gedoen mag word, maar verder sal hy volkome oor alles rig! Is julle daarmee tevrede?”