Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 64

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Ruban pleit by sy metgeselle vir die Heer

64 ROCLUS sê: “Ja, ja, jy het gelyk, ook ek dink so daaroor! Maar as Hy dit nou eers net vir ons sou wou doen op voorwaarde, dat ons ten slotte al ons leuens aan die volk bekend moet maak en al die aardse skade moet vergoed, wat ons aan hierdie volk deur ons toorbedrog aangerig het?! Wie van julle sin het om hierdie neut te kraak, moet dit maar doen; ek voel voorlopig nog weinig lus daarvoor om my daarna deur die volk te laat toetakel! Dit is `n baie netelige saak!

[2] Ek wil egter eers weet wat Hy nou eintlik in hierdie opsig van ons verlang! Daarom sal ek dan nog `n keer na Hom toe gaan en sien en hoor wat Hy in hierdie opsig alles vir eise aan ons sal stel; want van `n ontmaskering voor die oë van die volk deur onsself kan daar absoluut geen sprake wees nie!”

[3] RUBAN sê: “So-iets sal Hy sekerlik nie van ons verlang nie; want Hy sal dit beter weet as ons almal! Dit is geen sprong in die duister nie; in die hele natuur wat aan ons bekend is, moet die een uit die ander voortkom! Dat ons met ons drogmiddels soms spronge gemaak het, wil nog nie sê dat Hy ook so met ons sal doen nie! Gaan daarom na Hom toe en doen heel openlik wat ek jou nou aangeraai het.”

[4] ROCLUS sê: “Ja, maar ek doen dit maar net omdat ek dit wil doen, nie omdat julle dit wil hê nie en omdat jy, Ruban, my dit aangeraai het nie!” 

[5] RUBAN sê: “Dit is vir my om die ewe om watter beweegredes jy iets doen, as jy maar net die regte ding doen! Maar weet jy, eerste onderdirekteur en hoof van die afdeling buitelandse aangeleent­hede van die instituut, dit is nog altyd jou ou, hoogmoedig klinkende manier van spreek en handel, dat jy by die beste raad wat `n ander persoon aan jou gee, sê: “O, dit het ek alreeds lankal ingesien en by myself gedink en ek sal dit nou ook doen, omdat ek dit self so wil!” Of die Goddelike Nasaréner ook vir altyd daarmee tevrede sal wees, weet ek nie; want Hy skyn `n groot vyand te wees van hoogmoed, ook as dit maar net skynbaar is! Ek het, begryp jy, eerlik gesê, nog nooit gespog oor my rede en die besondere skerpsinnigheid van my verstand nie; `n goeie eienskap van my gemoed is egter, dat ek gou in `n mens raaksien hoe dit met sy manier van voel en dink gesteld is.

[6] En daarom ken ek die Goddelike Nasaréner tot sover al heel goed, sodat ek weet hoe Hy is, wat Hy wil en wat Hy wens. Deemoedigheid skyn by Hom boaan te staan, waarsonder waarlik van geen liefde en nog minder van volle waarheid sprake kan wees nie. Maar ja, ons uitgangspunt is sodanig dat elke blik van ons, elke stap, elke woord en elke handeling teenoor ons medemense die grootste bedrog en mees geraffineerde leuen is, en volgens die reëls van ons orde ook moet wees, omdat ons slagspreuk is dat elkeen deur ons bedrieg en belieg moet word omdat elkeen dit self so wil hê.

[7] Maar dit is geen beginsel van die Goddelike Nasaréner nie. Sy slagspreuk is sekerlik maar net: “Die volmaakste en suiwerste waarheid en Sy geregtigheid tot elke prys, ook al raak dit die bestaan van die hele wêreld!” Neem jouself daarom in ag; want jy staan voor `n Regter, wie se vermoë om te sien ook tot in jou diepste gedagtes reik! Neem jouself dus in ag met alles wat jy sê of doen, want anders gaan heelwat verkeerd!”

[8] ROCLUS sê: “Ja, my liewe, goeie broer Ruban, omdat jy dit alles so goed weet, moet jy maar in my plek na die Nasaréner toe gaan en na jou eie goeddunke alles met Hom reël en dan moet dit ook vir ons almal goed wees; want teen so `n geweldige stroom kan mens nie swem nie! Gaan en doen dit en ek sal jou bowendien nog heel dankbaar daarvoor wees!”

[9] RUBAN sê: “Waarom nie? As julle my almal daartoe volmag gee, dan wil ek daardie guns graag vir julle doen, - selfs baie eerder as om nog langer `n nuttelose volksbedrieër te wees!”

[10] AL TWAALF sê: “Ja, ons gee aan jou volmag daarvoor en ons sal dit heeltemal eens wees met wat jy met die Nasaréner sal ooreenkom; want ons Roclus is wel `n baie voortreflike direkteur vir ons buitelandse leuen-en bedrogsake en hy is `n uitstekende politikus; maar die ligte sfere van die waarheid was nog nooit sy gebied nie, hy sou baie onhandig daarmee handel. Dit is daarom beter dat jy in sy plek gaan en alles goed en doelmatig met die Goddelike Nasaréner bespreek!”