Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 142

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus se voorstel vir die hervorming van die instituut van die Essene

142 ROCLUS: 'Wat die ander wetenskaplike bydraes betref, dit kan wel bly; dit het ons immers nooit vir iets anders gebruik as om die gaste so nou en dan op `n baie onskuldige manier te amuseer nie. Ons kan dit egter ook vernietig, dan sal niemand iets daarteen kon hê nie. Veral die nagemaakte volmaan moet weg; want dit is sonder meer te plomp en nie eens meer geskik vir die optiese bedrog van die domste mense nie. Die sprekende bome, struike, beelde, suile, bronne en putte moet opgeruim word en in die plek daarvan moet daar iets beters kom. Die elektriese werktuie kan egter bly, asook die verskillende brandspieëls; want hierdie dinge hoort tot die wetenskaplike vak en mens kan met behulp daarvan verskillende siektes genees. Daartoe hoort ook ons aptekerskuns en die kuns om glas te maak, dit te slyp en te poleer.

[2] Kortom, wat by ons volgens waarheid uit suiwer wetenskaplike sake bestaan, moet bly en al die ander moet ophou! En as dit ophou, is ons sekerlik aan niemand enige rekenskap daaroor verskuldig nie, want die instituut is ons eiendom; volgens die wette van Rome het ons die onbetwisbare reg om daarmee om te gaan soos wat ons glo. As ons iets vir die volk doen, dan doen ons dit omdat ons dit self wil, aangesien ons in niemand se diens staan nie, en niemand ons betaal nie. Ons is selfstandige mense en ons eie baas, en geniet as Romeine en onderdane wetlike beskerming, netsoos elke Romein; bowendien besit ons nog soveel skatte en vermoëns, dat ons ons skatte in geen duisend jaar sou kon opgebruik nie, selfs as ons soos ou Croesus wou lewe. Daarom sien ek selfs in suiwer wêreldse opsig nie in vir wie ons onsself sou moet skaam nie! Vir die Heer het ons nou verder geen geheime meer nie. Hy sou eintlik die enigste wees vir wie ons onsself sou moes skaam; maar met Hom het ons alles goedgemaak. Hy is ons nou goedgesind, omdat Hy al voorheen geweet het dat ons Sy wil tot aan die einde van die tye, so suiwer soos wat ons hierdie tot nou toe bewaar het, sal vervul, dan sal Hy ons nie slegs tot aan die einde van alle tye goedgesind bly nie, maar ook ewiglik aan die ander kant.

[3] Stel jou voor hoe dwaas dit sou wees van elkeen van ons, as ons byvoorbeeld met `n blinde daaroor sou wil twis wanneer hy oor `n klip sou struikel op `n weg wat vir hom onbekend is, en op die grond sou val en homself sou seermaak. Ja, as hy kon sien, dan sou mens inderdaad kon sê: 'Vriend, waarom het jy dan twee oë in jou kop?' Maar teen `n blinde kan mens so `n dergelike verwyt nie maak nie; want hy het geen lewenslig nie, vir hom gaan geen son nóg op nóg onder nie. En so was ook ons geestelik blind en kon niemand ons ook hulp bied en op die regte pad bring nie! Ook al het ons dikwels geval op die pad wat ons nie gesien het nie, wie kan ons daarvoor ter verantwoording roep, sodat ons beskaamd kan staan?! Het ons toe geweet wat ons nou weet? Van wie moes ons dit verneem? Maar noudat ons dit weet, sal ons ook daarvolgens handel, soos wat ons tot nou toe altyd gehandel het volgens wat ons geweet het.

[4] Dit gaan nou ook heeltemal nie daaroor of ons nou terwille van onsself by die reorganisasie van ons instituut eervol daarvan sal afkom al dan nie, maar dit gaan maar net daaroor dat ons, in die oë van die wêreld, nie van bedrog verdink moet word nie, omdat ons in die toekoms op die veld van die waarheid wil werk, vir die welsyn van die mense en dit ook sal doen, en daarvoor is `n goeie vertroue nodig en `n sekere goeie eer van die kant van die mense wat deur ons onderrig en gelei moet word; en ons mag dit vir geen goud verloor as ons wil hê dat ons moeite goeie vrugte moet dra nie.

[5] Wat dit aanbetref is alles baie goed in orde en ons kan alles afskaf, dit sal egter nie opval nie. Slegs die maan- en sonsverduistering sal ons `n bietjie probleme gee, altans in die begin, omdat dit sekerlik sal bly bestaan! Dan sal daar spoedig allerlei mense kom en sê: 'Waarom laat julle nou sulke verskrikkings oor ons kom?! As ons sondaars vir julle en vir die gode is, waarom waarsku julle ons dan nie, sodat ons boete kan doen en offers kan bring vir julle en die gode?!' Wat sal ons hulle dan antwoord?

[6] Kyk, dit is die eintlike moeilikheid! Wel, om ons daaruit sonder leuen en om beswil met die suiwerste goddelike waarheid daaruit te red, dit sal moeilik gaan! Maar `n leuen moet volgens die wil van die Heer nooit meer oor ons lippe kom nie! Wat moet ons dan doen?! O, wat `n wanhopige geskiedenis! Soos wat gesê is, hierdie keer staan my osse stil op die berghelling en wil die wa nie verder omhoog trek oor die steil rotswande nie!"

[7] IEMAND van die geselskap sê: 'Vra dit dan nog vir die Heer en Leraar oor alle dinge! Hy sal jou ook in die opsig wel goeie raad gee! Ons kan wel jare lank ons koppe daaroor breek en dan sal ons nog geen wyse oplossing vind nie! Maar nou is ons nog by die Bron en kan ons nog die beste raad verkry. Dit sou tog dwaas van ons wees, as ons in so `n belangrike aangeleentheid nie aan die Allerhoogste, mees wyse Skepper van alle dinge sou vra wat ons moet doen nie, sodat ons terwille van God se ryk op aarde nie tot skande sou kom voor die blinde wêreldse mensdom nie?!'

[8] ROCLUS sê: 'Jy het natuurlik wel gelyk, en ek kan dit inderdaad in elk geval doen, terwille van die uitbreiding van Sy goddelike leer; dit sal net gepas wees om eerder na te gaan of ons beroep op Sy goddelike Liefde en Wysheid op sigself nie al `n te groot dwaasheid sal wees nie, waarmee ons eintlik tog nie goed by Hom kon aankom nie, omdat ons daarmee ons nog so groot onnoselheid sou openbaar oftewel `n baie geringe agting vir Sy onbetwisbare goddelikheid sou toon!"

[9] IEMAND ANDERS van die geselskap sê op sy beurt: 'Ja, daarin het jy gelyk; maar weet jy, daaraan het ons almal niks nie! As iemand eenmaal in die water lê en om hulp roep, dan kan mens nie daarop let of hy deur `n ongelukkige toeval of deur eie moedswillige domheid daarin geval het nie; hy by wie die water eenmaal in die mond begin instroom, dink egter nie meer daaraan wat hom eintlik in die water laat val het nie, maar 'Help! Help!' is sy angsgeskreeu. Of mens hom kan help of nie, is natuurlik `n ander saak en hang net van die bekwaamheid af van hulle, tot wie die ongelukkige om hulp geroep het. So dink ek daaroor?'

[10] ROCLUS sê: 'Jy slaan die spyker op die kop! Laat ek daarom nou dan ook die Heer van alle meesters om raad vra! Ek gaan vinnig na Hom toe en sal ons probleem aan Hom voorlê!"