Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus se mening oor gode en priesters

23 ROCLUS: “Ons het, met `n paar sysprongetjies, nou twee godsbegrippe, wat by elke mens, met `n enigsins redelik ontwikkelde verstand, maar net die laglus opwek. By die Egiptenare, Grieke en Romeine wemel dit van groot, klein, goeie en slegte gode; by die Judeërs sit daar maar Éen op die troon wat baie ernstig en streng regverdig is, maar daarby nogtans goed en so nou en dan barmhartig. Maar kwaad maak mag die Judeërs, wat Hy Sy volk noem, Hom ook nie; want verloor Hy eenmaal Sy geduld, dan is daar met Hom nie te skerts nie. Hy dompel dan dadelik die hele mensdom een jaar lank onder water en as die water dan - God weet waarheen - wegloop, is daar miljoene genees en weet sekerlik niks daarvan nie! Of Hy laat oor `n sondige volk dadelik `n halwe maand lank weerligstrale, swael- en pikvuur uit die hemel reën en met die sonde het ook die volk van die aarde verdwyn! Ook met pestilensie en ander kwale is die enige God van die Judeërs baie vrygewig; en as Hy eenmaal begin om Sy tugroede oor `n volk te swaai, dan is daar van `n spoedige einde nog lank geen sprake nie! By die Judeërs kom derhalwe al die goeie en bose van een en dieselfde God, terwyl by ons Grieke talle gode die een of die ander reël. Wie nou met sy godedom beter daaraan toe is, sal hier wel moeilik te bepaal wees.

[2] Maar wat praat ons oor gode in die hemel of in die Orkus en Tartarus*!? Dit is alles versinsels! Die lui, arbeidsku priesters is die gode, en die een God van die Judeërs is die hoëpriester in Jerusalem! Hierdie priesters het `n skat aan ervaring en kennis, waarvan hulle wyslik niks deurgee aan die blindgemaakte volk, wat verder met alle moontlike geweld blind gehou word nie. Net in hul boosaardige stand word die dikwels baie uitgebreide ervarings van talle eeue en die mees uiteenlopende kunste en wetenskappe bewaar in die vorm van altyd onaantasbare, heilige geheimenisse. Daarmee bedryf hulle hul listige spel met die mense, wat daarvoor uitermate baie aan hulle moet offer, om dan deur hulle des te makliker so grof moontlik bedrieg en op alle lewensgebiede mishandel te kan word. My hele vermoë en selfs die laaste vonk van my lewe gee ek aan diegene wat aan my die teendeel met feite kan bewys! *(gode van die onderwêreld)

[3] In die oertye mag daar wel hier en daar eerlike en opregte mense gewees het, wat vanaf hul geboorte reeds `n besondere skerpsinnigheid van gees besit het en mettertyd deur allerhande ervarings verryk is en dit graag, en met alle liefde, hul geestelike verworwenhede met hul medemense, wat nie so hoog ontwikkel was nie, wou deel en vervolgens ook gesien het dat die seëninge daarvan aan hul broers deur goeie en blywende resultate begelei is. Dit moes wel heerlik gewees het om te lewe in `n volksgemeenskap waarin geen mens vir die ander iets uit selfsug geheim gehou het nie en almal tot hul voordeel in alles ingewy was in wat die mees ervare onder hulle geweet het! Maar hoe lank kon so `n gelukkige toestand duur?

[4] Die eerste weldoener van sy medemense is sekerlik deur hulle op die hande gedra en sy opvolger nie minder nie. Dit het afguns gewek by sommiges wat gehou het van `n lui lewe en hulle het ook verlang om deur hul medemense op die hande gedra te word. Hulle het ook probeer om hulself te verryk deur hul ervarings in bepaalde opsigte uit te brei, maar het begin om dit terselfdertyd steeds meer geheimsinnig te doen om hulle daardeur by hul medemense belangrik te maak. Iemand wat dit `n lang tyd volgehou het om so stom soos `n vis, maar met `n verhewe gesig, rond te wandel en wat natuurlik deur baie nuuskieriges heel indringend gevra is waarom hy steeds so, sonder om iets te sê en diepsinnig kykend rondloop, het daarop geantwoord: “As julle sou weet wat ek weet en gesien, gehoor en ervaar het, dan sou julle van pure innerlike verbasing nog woordeloser en diepsinniger gewees het as ek!'

[5] Wanneer die heel eenvoudige mense, wat brand van nuuskierigheid en weetgierigheid, so-iets van `n listige boef en dagdief hoor, laat hulle hom nie meer met rus alvorens hy met voorwaardes kom waaronder hy hulle iets van sy oneindige voorraad wil meedeel nie. Die voorwaarde word bereidwillig aanvaar en die slinkse boef het hom daardeur verhef tot profeet en priester by sy medemense, aan wie hy dan begin om allerlei mistieke sake voor te lê, wat nòg hy en nòg minder iemand anders verstaan en kan verstaan, omdat dit maar net te vinde is in die redelik fantasieryke brein van ons boef, wat deur sulke listige bedrog ten slotte alle egte ou, wyse natuurkundiges tot swye bring en wel hoofsaaklik deurdat hy die volk na hom toe trek en aan die verstand bring dat hy alleen meer weet en verstaan as tienduisend van hul wyses. 

[6] Om sy drogleerstellinge dan by die volk volledig en blywend ingang te laat vind, hoef hy net `n aantal toortruuks daaraan by te voeg en die arme, goeie volk laat hulle deur hom, `n hartelose en gewetenlose bedrieër, dadelik met duisende skerpsiende, skerphorende en gewoonlik almagtige gode bedrieg!

[7] En wee die eerlike en goedmenende, opregte man wat uit ware insig en rein, onselfsugtige liefde aan die volk sou sê: “Glo nie hierdie valse profeet nie; want elke woord uit sy mond is `n klipharde leuen waaruit net brandende eieliefde en tirannieke heerssug blyk, wat julle, wat nou nog vry is, spoedig met die swaarste kettings sal bind! Hy sal aan julle onverdraagsame wette onder die titel, “wil van die gode”, oplê en by die oortreding daarvan die swaarste strawwe, ja selfs die marteldood stel. Dan sal julle en jul kinders onder die swaar druk van so `n valse onderwyser sug en weeklaag en luid om redding roep! Maar julle geroep sal volkome tevergeefs wees, want aan die mag van hierdie tiran, wat nòg `n hart, nòg `n greintjie menslike naasteliefde besit, sal moeilik iets gedoen kan word!

[8] Teen so `n opposisieleer, wat sekerlik dikwels in die begintye van die volksverknegting voorgekom het, kan tog geen regverdige en gesonde menseverstand iets inbring nie! Maar die volk het hulle laat imponeer deur `n aantal wonderwerke en geglo of aan één, of selfs aan `n aantal gode van allerlei soorte en het hulle deur hulle, dit wil sê, deur hul plaasvervangers, wat buitengewoon trots, hoogmoedig, en gruwelik, heerssugtig en selfsugtig was, uiters onbarmhartig laat mishandel, in plaas daarvan om self te begin nadink en terug te keer na die ou, natuursuiwer, menslike verstand. As mens, soos wat ek en ook my elf metgeselle, taamlik goed op die hoogte is met die saak, sal mens wel begryp waarom ek `n ateïs is."