Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 26

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Cirénius bejeën Roclus as vriend. Die oorsaak van die verval van die priesterskap

26 Toe wend CIRÉNIUS hom weer tot Roclus en sê: “Luister eers vriend, ek het alles wat ek van jou gehoor het, deeglik oordink en heen en weer oorweeg en ek het jou redes weliswaar as baie waar en steekhoudend bevind en moet jou dus sê dat jy in baie opsigte gelyk het, maar nogtans nie heeltemal in alles nie, omdat jy tog by al jou gesonde opvattinge die fout maak om oordrewe ywerig te wees en die kind met die badwater weg te gooi. Jy grond jou oordeel op die hede en rig `n gebou op wat geen soliede fondament het nie, wat op sand staan en maklik deur die storms verwoes kan word.

[2] Dit is wel waar dat die priesters, veral die hoës, vir die grootste deel baie heerssugtige en daarom ook meestal hartelose mense is en dat die onderpriesters meestal na hul pype moet dans, veral diegene wat in die onmiddellike omgewing van die grotes en hoës hul amp moet vervul; maar die sake is tog nie heeltemal so waardeloos en so `n volkome bedrog soos wat jy dit vir jou voorstel en dink nie!

[3] Dink nou aan die verskil in taal tussen die huidige tyd en vroeër! Duisend jaar gelede het mens net in beelde en ooreenkomstige gelykenisse gespreek. Die hele taal was suiwer poësie en daarom het die oudstes alles in versvorm geskryf en meestal ook op hierdie manier met mekaar gepraat. Die sogenaamde gebrekkige prosa het eers te voorskyn gekom toe die mense, grondig bederf, oorgegaan het in die suiwer materiële, vleeslike lewe.

[4] Die ou profete en sieners sou dus steeds aan die mense wel die ware en egte God beskryf en getoon het, en die eerste mense het hulle beslis ook beter begryp as wat ons hulle nou begryp. Maar deur die streng navolging van die bekende baie wyse gebooie van God van destyds, het die eerste nakomelinge al tot groot welstand gekom; wat hulle weldra oormoedig, sinnelik en gemeen gemaak het. Dergelike mense het maar al te gou met die beeldspraak van die siel niks meer te doen gehad nie en het die taal van die ou profete en sieners gou daarna glad nie meer verstaan nie.

[5] Mens het begin om volgens die letter te handel, wat nie lewend maak nie, maar dood, en mens het op die manier maar al te gou die ligkern van die waarheid verloor. Ons almal, soos wat ons hier is, twee uitgesonder, weet niks van `n innerlike, geestelike betekenis van die waarheid nie en wat ons van al die sieners en orakels gehoor het, het vir ons, net soos vir jou, volkome dwaas voorgekom. Maar die twee wat ook by ons is en veral die Een, het ons oë geopen en laat sien hoe totaal en ontsettend verkeerd ons almal die ou sieners en profete verstaan het.

[6] Uit sulke verkeerde begrippe moes uiteindelik ook wel heel verkeerde lewensbeginsels voortgekom het en daaruit weer ander ontelbare dwaashede en die godsdienste kon ten slotte ook geen beter aansien gehad het as al die ander dinge wat die mens gedoen en tot stand gebring het nie.

[7] Maar omdat die mensdom in sy innerlike, geestelike lewensfeer so baie in die duister gekom het en hom van die hoër, Goddelik geestelike invloed totaal verlate moes voel, het die selfsug begin toeneem, het hy hom begin pantser, orals vyande begin sien en hom teen hul moontlike aanval uitgerus met louter uiterlike wapens, soos wat `n mens in die digte woud deur die nag verras word, en uit vrees vir uiteindelike vyande, ook alles wat moontlik is in werking stel om hom te beskerm teen die vermeende vyande wat hom wil bedreig.

[8] Ja, menigeen dryf dit in sy angs so ver dat hy die moontlikheid van die bestaan van `n wese wat hom vriendelik gesind is, volkome uitsluit, hom van elkeen afsonder en `n algehele gierigaard word, wat alles vir sy beskerming by elke ander laat geld en niemand langs hom duld nie! Hy omgeef sy huis met hoë, dik mure; sy skatte berg hy op in ysterkiste en begrawe hulle bowendien dikwels onder die grond, gewoonlik op so `n plek waar mense moeilik sal kom.

[9] In hierdie toestand word die mens dan ook baie heerssugtig, omring hom met allerlei mag, en probeer dan op die mees meedoënlose wyse alles vir hom toe te eien uit angs dat hy ooit `n tekort sal hê.

[10] Gaan en vra so `n egte gierigaard, vir wie hy dit alles versamel, want hy kan dit wat hy bymekaargeskraap het, tog immers nie in duisend jaar vir homself gebruik nie. Dan sal hy jou dadelik as sy aartsvyand beskou en beslis geen verantwoording aan jou aflê nie. En in geestelike opsig is veral die priesters nou so.

[11] Hulle is weliswaar uiterlik in besit van die ou, profetiese oorlewerings en lees en beskou dit ook die meeste; maar juis daardeur beland hulle ook die eerste en die vinnigste in `n digte woud vol duisternis en twyfel, waaruit hulle nooit meer die weg kan vind nie. Omdat hulle egter nou eenmaal priesters is, moet hulle hul voor die volk deur allerlei dwase uiterlike vertoon die skyn gee asof hulle iets sou weet en verstaan; maar hulle weet en verstaan niks nie, behalwe die feit - egter net heimlik in hulleself, - dat hulle totaal niks weet, verstaan en insien nie!

[12] Hulle gebruik daarom hul tyd maar net om steeds doeltreffender hul absolute onwetendheid vir die volk te verberg en aan hulle so `n groot moontlike rat voor oë te draai, wat vir hulle, wat dit met hul denke so ver gebring het dat hulle in hulself heeltemal niks weet nie, - waarvoor alreeds baie nodig is, - nou nie juis so `n moeilike taak is nie.

[13] Sommiges kom agterna weliswaar dikwels deur toeval tot `n lig van die korrekte insig; maar vanweë die volk wat in die duister gehou is, kan hulle die gebou, wat helaas opgebou is uit leuens en bedrog, nie meer omverstoot nie. Hulle moet dus met die stroom saamswem en hoogstens heimlik in hulleself die beter oortuiging behou.

[14] Jy kan my beslis glo dat daar onder die priesters, van watter godsdiens ookal, mans is wat maar al te goed die totaal verkeerde van hul uiterlike leer insien en wel deeglik kennis het van `n ware en enige God, wat hulle in hul hart ook volledig aanhang; maar tog kan hulle eens en vir altyd niks aan die ou gebou van dwaling verander nie! Hulle laat dit heel geduldig oor aan Hom wat die mag het om die tempels van bedrog omver te werp, wanneer Hy dit wil en Hy dit goeddink! Want Hy sal ook wel die beste weet, waarom Hy dit toegelaat het dat allerlei droggode en afgodstempels gebou is en hulle met mure en swaarde versterk is!

[15] As jy dit nou eers heel grondig oorweeg, moet jy tog in elke geval wel minstens duideliker begin insien, dat jy ondanks jou skerp verstand en alle ervaring, nie sonder meer as volkome ateïs met alle aangevoerde redes gelyk het nie en dat jy nog baie ver verwyder is van die suiwer, innerlike waarheid!

[16] Nou is dit jou beurt om jouself weer te regverdig, as jy dit wil en kan; want nou staan ons as vriende teenoor mekaar en jy kan sonder enige angs vir geregtelike vervolging jou vry uitspreek! Jy kan openlik sê wat jy op die hart het, en ek sal vervolgens nie as hoë gesagsdraer van Rome en nie as opperregter, maar as mens en broer deur woord, raad en daad trag om jou op die goeie weg te bring! As jy dit egter nie wil hê nie, kan jy volgens jou vrye wil ongehinderd hier weggaan en gaan waarheen jy wens en wil! Wel sal dit my baie hartseer maak om jou in die waan hiervandaan te laat gaan; maar nieteenstaande dit sal jy net al vanweë jou skerpsinnigheid, wat ek weet om te waardeer, geen enkele dwang van my kant ondervind nie. Spreek dus nou verder heeltemal vry en openlik met my, jou vriend!”