Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 270

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die soutrots. Die wonderlike en geseënde aandete

270 Toe Ons weer in die dal voor die rotsspleet te staan kom, lê almal merktekens neer vandaar af tot by die eerste huise, sodat hulle die volgende keer hierdie geheime weg sou kon terugvind. Ons gaan nou in die heeltemal teenoorgestelde rigting na die veraf wonende buurman, wie se huis op `n behoorlike hoë heuwel staan, en ongeveer `n halfuur van die ander huise vandaan lê.

[2] Daar aangekom, sê EK aan die besitter van die huis: “Kyk, presies in die rigting waar die son netnou sal ondergaan, sien jy nie ver hiervandaan nie, `n wit rotswand van aansienlike grootte; wel, dit is suiwer sout en julle almal kan dit onmiddellik gebruik, sonder enige voorafgaande suiwering! Julle moet net `n bietjie minder van die sout by die spyse gooi, want dit is kragtiger as die uit Nahim, ofskoon ook die sout uit Nahim -weliswaar baie diep - van dieselfde berg gewin word. Wie van julle daarheen wil gaan, moet dit doen, en heelwat sout hiernatoe bring!”

[3] Die besitter van die huis bied onmiddellik aan om gou daarheen te gaan, omdat dit byna `n kwartier sou verg, wanneer `n mens vinnig sou stap. Hy neem `n skoppie en `n houer saam, maak met gemak enkele stukke van die bergwand los, vul die houer daarmee en bring dit onmiddellik na Ons toe. Almal proe die sout en vind dit voortreflik. Toe bedank die mense My weer. Ek seën die hooggeleë huis en vervolgens begeef Ons Onsself almal op die terugweg; ook die ver weg wonende buurman gaan saam met Ons en neem selfs sy vrou en `n paar volwasse kinders saam.

[4] Toe Ons weer by die huis van Barnabe aankom, wag alle inwoners van die plekkie reeds op Ons en prys hulleself hardop geseënd dat hulle My weer sien en in hul midde het.

[5] En DIE BUURMAN, wat Ek die middag van die slangbyt genees het, roep hardop uit: “Hosanna in die hoogste vir Hom wat na ons toe gekom het! Hier is nou die ware, nuwe Jerusalem waaroor `n profeet reeds geprofeteer het; die ou en slegte Jerusalem sal egter binne `n kort tyd ten gronde gaan!”

[6] Almal spreek hierdie woorde na en wel so entoesiasties en so kragtig dat dit van die talle verre en hoë rotswande in duisend eggo's weerklink. Die bewoners, vir wie die spel van die natuur nog vreemd was, dag toe dat Ek wel `n uiters belangrike geesmens moes wees, omdat selfs die lug- en berggeeste nou met hul lofprysing ingestem het.

[7] Maar Ekself verklaar aan hul die verskynsel, en hulle aanvaar My verklaring ook dankbaar; hulle probeer hul kragtige stemme nogeens en dit klink wederom terug, ook sonder die hosanna.

[8] En nou glo ALMAL en sê: “U is die enigste waaragtige; want `n dienaar van die tempel sou ons nou al gestenig het as ons nie geglo het dat dit werklik berg- en luggeeste was nie!”

[9] Ek sê aan die herbergier dat hy eers moes gaan kyk hoe al hierdie talle gaste, ongeveer tweehonderd, van `n aandete voorsien kan word.

[10] DIE HERBERGIER sê: “Heer, alles wat ek het, sal gereedgemaak en opgedis word; ek is net bang dat dit nouliks genoeg sal wees vir elkeen.”

[11] Maar EK sê: “Gaan na binne om te kyk!”

[12] DIE HERBERGIER gaan binne kyk en ontdek dat al sy voorraadkamers vol was met brood, wyn, melk, heuning en vars vis, en nog `n groot hoeveelheid van die fynste meel vir broodjies en ander spyse.

[13] Toe kom hy gou terug, slaan homself op die bors en sê: “O, dit oortref nou wel alles! Ek weet presies wat ek voorheen in my voorraadkamers gehad het; hulle was slegs karig gevul vir die behoefte van my huis, en nou peul hulle aan alle kante uit van die grootste oorvloed! Dit was weer U, Heer! Ja, nou kan daar vir duisende gekook word en nie net vir hierdie tweehonderd nie! Maar waar kry ek nou soveel kokke vandaan? My liewe bure moet vandag wel hul uiterste bes doen, want my eie mense sou nie vóór môre daarmee klaarspeel nie!”

[14] Toe die vroue en dogters uit die buurt dit hoor, gaan hulle dadelik na die groot kombuis en gaan aan die werk, en so was die groot maaltyd binne `n uur klaar.

[15] Die maaltyd was nou wel klaar; maar nou doem `n ander probleem weer op. Die herbergier het nou veels te min tafels en banke, en sy kamers was vir tweehonderd gaste ook te klein. Kortom, dit ontbreek hom aan alles vir so `n gebeurtenis. Daarom kom hy na My toe en vra My raad oor wat hy moes doen.

[16] EK sê: “Ja, My vriend Barnabe, langs natuurlike weg sal daar nie baie gedoen kan word nie! As dit nie op hierdie hoogte so koud was nie, sou Ons hier buite kon gaan sit het, maar die aande word nou al baie koud en donker en daarom deug dit nie meer buite nie. In `n skaapstal pas weliswaar talle vreedsame skape; maar omdat jy ook geen banke en tafels het nie, is dit tog wel `n bietjie moeilik. Ook wat die lig aanbetref, is jou huis nie so goed uitgerus nie! Dit weet Ek. Maar Ons sal tog middele vind waardeur Ons almal goed onderdak gebring kan word. Kyk in jou huis hoe dit met tafels en banke gestel is, en kom sê My daarna!”

[17] Die herbergier gaan sy huis binne, bekyk nou alles, en het dadelik vol verwondering teruggekom. Ek vra hom hoe dit daar uitsien.

[18] En BARNABE antwoord weer vol verwondering: “O Heer, U is so goed, nou eers sien ek baie duidelik in dat geen enkel ding vir U onmoontlik is nie! Die kamers aan die agterkant is met meer as die helfte vergroot, tafels en banke is daar meer as genoeg, en ook aan die mooiste lampe is geen gebrek nie. Op alle tafels staan die spyse reeds gereed op ons en wag, en daarom dink ek, arme sondaar, dat ons onsself nou na die kamers moet begewe om die wonderbaarlike aandmaaltyd te nuttig.”

[19] EK sê: “Ja, dit doen Ons nou, volg almal My dus; want met julle het Ek `n goeie oes ingebring!”

[20] Ek gaan voor en elkeen volg My. Binne enkele oomblikke sit elkeen in goeie orde aan die tafels.

[21] Maar voordat iemand `n hap na sy mond bring, gaan DIE HERBERGIER staan en spreek: “My beste bure, luister almal na my! Hierdie maaltyd is `n ware goddelike maaltyd in die paradys wat verlore gegaan het deur die skuld van die mens. Die groot, heilige God en Heer het dit vir ons Self teruggebring. Hy sit, o wonderwerk van alle wonderwerke, nou in lewende lywe in ons midde, en het Self die ware paradysmaaltyd vir ons toeberei! Hierdie maaltyd is derhalwe `n ten hoogste geseënde en heilige maaltyd. Maar ons is sondige mense - en wil nou tog graag die maaltyd geniet, hoewel ons onwaardig is. Laat ons daarom soos vantevore almal tot Die Heer bid dat Hy ons ons sondes sal vergewe, en ons dan `n bietjie waardiger ag om met Hom hierdie heilige maaltyd te hou. Verhef julle en spreek met my: O Heer, U Wonderbaarlike! Vergewe ons ons sondes, sodat ons waardiger kan word om saam met U aan tafel te sit!”

[22] Hierop sê EK: “Ek is `n arts en het gekom om die siekes te genees. Maar `n sondaar is ook `n sieke, en so was julle dan ook siek, wat betref julle siel en liggaam. En daarom het Ek julle opgesoek en volledig genees, en daarom is julle nou geen sondaars meer nie; neem nou dus welgemoed plaas aan tafel en eet en drink na hartelus! Maar jou woorde, Barnabe, het My egte vreugde verskaf, en daarom sal julle almal nog meer as tot nou toe aan My die glansrykheid van God gewaarword! Eet nou!”

[23] Hierop gaan almal sit, dank My en begin waarlik na hartelus te eet en te drink; en Ek en die leerlinge doen dieselfde. Tydens die eet en drink word weinig gepraat; slegs na die beëindiging van die maaltyd gaan alle gaste uit die buurt staan, lê hul hande op hul bors en dank My luid vir die paradyslike goeie aandete. Toe hulle hul dank beëindig het, wil hulle huiswaarts keer, maar Ek sê vir hulle om nog `n tydjie te bly, sodat ons nog met mekaar oor die gebeurtenisse van hierdie Sabbat kan praat.