Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 250

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die noodsaaklikheid van wêreldse regbanke. Die oorsake van misdade en die verhoed daarvan

250 PETRUS sê; Majesteit en Heer! Dit is verseker, en so sou dit ook die allerbeste wees; maar ook wanneer ons dit almal noukeurig in ag neem, en eweneens die talle ander mense wat hierdie leer van ons sal kry, is dit tog wel die vraag of die wêreldse regbanke daardeur nie meer sal bly bestaan nie.

[2] Kyk, as iemand my `n bepaalde iets aangedoen het, sal ek hom dit sekerlik ook sewentig maal sewe keer vergewe, as diegene wat my beledig het, werklik daarop sou let; maar as hy so sleg en gemeen is dat dit vir hom nog nie genoeg is nie, en hy my meer beledig as sewentig maal sewe keer, - wat moet daar dan met so iemand gebeur? Ek is van mening dat dit dan tog wel tyd word om so `n misdadiger aan die wêreldse regbank oor te lewer, soos wat U barmhartige koning dit ook ten slotte gedoen het, omdat sy groot sagmoedigheid niks gehelp het nie en hy laat die onbarmhartige kneg toe tog aan sy geregsdienaar oor. Wat sê U, Heer, van hierdie mening?”

[3] EK sê: “My beste Petrus, daarop sal Ek nie baie sê nie, omdat Ek julle vir so `n onverbeterlike geval, onmiddellik na die rusie van die vissers voor jou huis, al baie duidelik die korrekte instruksie gegee het en elkeen van julle tog seker verstaan het wat `n mens in so `n geval moet doen en hoe `n mens daarmee moet omgaan!

[4] Maar dit is natuurlik vanselfsprekend dat daar op hierdie wêreld vir groot en growwe oortreders van die regte van die mense ook gesaghebbende en groot wêreldse regbanke moet wees en bestaan, omdat niemand andersins uiteindelik nog van sy lewe verseker sou gewees het nie. Maar wat die kleiner misstappe aanbetref, wat dikwels tussen julle mense plaasvind, dit moet voor die regterstoel van die barmhartige en versoenlike hart bygelê word, sodat die klein misstappe van die mense onder mekaar nie uitgroei tot groot, swaar misdade nie; want waarlik sê Ek: Roof, doodslag en moord is uiteindelik immers niks anders nie as gevolge van vroeëre klein misstappe van mense onder mekaar, wat ontstaan het as gevolg van loutere klein, wêreldse redes van eiebelang en eiedunk nie. `n Klein gelykenis sal dit nou vir julle nog duideliker belig:

[5] `n Ryk en in aansien staande vader is in die besit van `n baie mooi en liewe dogter, waar `n jong, maar arm, ofskoon behoorlik goed ontwikkelde man, baie baie verlief op raak en dit des te meer, omdat die liewe dogter hom reeds meermale deur allerlei vriendelike gebare en tekens maar al te duidelik laat verstaan het dat sy in haar hart `n geneentheid vir hom voel. Wel, hierdie verder eerlike en brawe jong man skep eindelik moed bymekaar en gaan met baie natuurlike goeie bedoelings na die vader van die mooi dogter en vra om haar hand. Maar die vader, wat vanweë sy groot rykdom uiters trots en hard is, laat die eerlike, arme man, wat om die hand van sy dogter vra, deur sy knegte by die deur uitsit en deur sy honde van sy erf jaag.

[6] Deur hierdie onbehoorlike ontvangs word die hart van die arme man nou vol toorn, boosheid en wraaksug, en hoe meer hy nou nadink oor die absolute onmoontlikheid om `n skoonseun van die ryk man te word, des te meer groei die gedagte aan wraak om die harde trotse man op baie gevoelige wyse te verneder. En toe hierdie bose gedagte volledig ryp geword het, was daar ook reeds sprake van `n plan, besluit en wil en daad, en die jong man word die moordenaar van die ryk man.

[7] Maar hy sou dit sekerlik nie geword het, as hy deur die ryk man as mens behandel was nie. Die ryk man, in sy trotse belangrikheid, meen dat dit nie eers iets was om die arme aanbidder op die voorafbeskrewe wyse die deur te wys nie; maar vir hom wat buite die deur gesit was, was dit te veel, en daardeur word hy `n misdadiger, `n moordenaar, en verberg hom toe, uit vrees vir die wêreldse regters, in die digte bosse en word daar die skrik van die mense. 

[8] En leer nou uit hierdie klein gelykenis dat die hardheid van die mense in die meeste gevalle hulle armer medemense tot misdadigers maak. Daarom moet julle altyd en orals by diegene wat julle die een of ander aangedoen het, dink oor wat Ek julle aanbeveel en duidelik laat sien het, dan sal groot misdadigers seldsaam word op aarde en die goeie mense sal dan heers oor die armes van die aarde. Het julle dit almal goed verstaan?”

[9] Nou bevestig almal dat hulle hierdie leer goed verstaan het. Die leerlinge, wat self gesê het dat hulle hierdie leer nou goed verstaan het, dink toe tog nog baie na oor wat daarin voorkom, en Johannes en Matthéüs teken die belangrikste op; Jakobus en Thomas maak ook vir hulleself aantekeninge, maar meer oor die uitleg. Hulle was wel twee ure daarmee besig.

[10] En toe die belangrikste opgeteken was, sê Petrus: “Nou kan hierdie leer nie meer vir ons verlore gaan nie, en daarmee is reeds baie gewen! Maar dit word nou aand en ek sal tog moet gaan sorg daarvoor dat ons `n aandete kry!”

[11] EK sê: “Wie het jou dan gesê dat dit nou al aand word? Kyk eers na buite, na die stand van die son! Ek sê jou, wanneer ons nou opstaan en met `n goeie wind oor die hele lengte van die see sal vaar, kom ons seker nog vóór sonsondergang by die grens van die Judese land aan die oorkant van die Jordaan!”

[12] Petrus kyk nou na die stand van die son en was baie verwonderd, en wel oor die feit dat hy hom in die beoordeling van die tyd so enorm kon vergis het; want dit sou nog drie uur geduur het voordat die son sou ondergaan.