Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 31

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus prys die goddeloosheid en die nie-bestaan

31 ROCLUS: “Ek het baie met Judeërs te doen gehad en al hul wette ken ek dalk beter as baie van hulle, want daar was vir my baie daaraan geleë om dit presies te leer ken. `n Ou spreekwoord sê weliswaar: “Wie soek, sal vind!”, maar tot op hede het hierdie spreuk by my nog nie bewaarheid geword nie; want ek het steeds net dit gevind wat ek nie gesoek het nie. Ek het die egte, ware Godheid gesoek en dit het ek heel ywerig en met baie geldelike opofferings, moeite en alle moontlike inspanning gedoen en dit ook steeds nugter van gees en verstand, ek het egter niks, heeltemal niks anders as menslike bedrog in talle vorms en gedaantes gevind nie, waarin geen enkele godheid, ook nie die grootte van `n sonstoffie te vinde was nie. Orals het ek in die gunstigste geval die geloof in die patriargale outoriteit gevind, maar steeds gehul in `n algehele oerwoud van mistiek, of in die erger geval die ligsinnigste bygeloof, of in die allerergste geval, die waansinnigste geloof onder die dwang van politieke onderdrukking, onder welke vleuels ten slotte selfs `n van nature baie begaafde gees hom in die modder van die ergste domhede nie meer staande sou kan hou nie. Vir julle en in sy eie oë sal hy soos `n huigelaar en `n monster word; want ten voorskrifte van die hoë waarde van die menslike gees bestaan daar vir my niks monsteragtiger en ellendiger as om op gesag van `n wet, wat deur `n magtige tiran bekragtig is, te moet aanneem dat die maan net oordag skyn, en snags net die son; en wie dit nie glo nie, se oë word as aanvangstraf vir die ongeloof uitgesteek, neus en ore afgesny en die tong uit die mond geruk. Dit is die eerste graad van straf vir die ongeloof.

[2] Glo so `n verminkte mens dan nog nie wat mens hom wil laat glo nie, dan word die ongelowige heeltemal naak met hande en voete op die ruuste kruishout – as’t ware - vasgespyker, vervolgens word sy buik kruis en dwars oopgeruk en dan word daar uitgehongerde honde op hom losgelaat, wat die ongelowige volledig by sy bewussyn die derms en ingewande uit die liggaam skeur en dit opvreet! Wie dit dalk nie sou kon glo nie, moet maar net na Indië reis, dan sal hy nie net dit nie, maar nog duisendmaal erger dinge aantref wat die mense hulleself moet aandoen. En as iemand sou weier om homself as boeteling die afgryslikste martelings aan te doen, wee, wee, wee hom, - hy is onder duisende ede tot die dood gedoem, natuurlik op die mees gruwelike en vertwyfelde wyse! En, vriend, moet daaragter dan die een of ander baie wyse, baie goeie, regverdige en almagtige godheid verborge wees? Al sou ek `n tiendubbele dwaas word, dan sou ek tog onmoontlik so-iets kan aanneem!

[3] Hou wat my betref dus maar op met alle godedom! Die mense het ewiglik geen god nodig nie, maar wel die ware filantropiese filosofie en `n menslikheid wat op rasionele beginsels gebaseer is en daardeur word hulleself heeltemal volmaakte gode. Met die suiwere verstand en met hul ontwikkelde, ondersoekende gees sal die skerpsiende, fyngevoelige mense van moeder natuur weldra baie belangrike geheime ontrafel en wonderlike dade tot stand bring, waarvan geeneen van ons nog ooit ook maar gedroom het nie en die mense sal sonder die ou, dom gode met mekaar `n uiters gelukkige lewenswandel hê. Die fisiese dood, waaragter hulle weliswaar geen Elisium, nog minder die een of ander allerwaansinnigste Tartarus in hul suiwer fantasie sal sien en verwag nie, sal hulle beslis `n baie geringer angs veroorsaak as wanneer hulle na die aflegging van die liggaam eers die ware, allerafskuwelikste rampspoedige gebeurtenis ewigdurend te wagte sal wees.

[4] Ek het vir ewighede nie bestaan nie; voel ek dalk enige droefheid omdat ek nie daar was nie? Dus sal ek, as ek weer volledig nie bestaan nie, oor die dwase bestaan beslis nog minder iets van hinderlike droefheid voel. Ek hou die volledige nie-bestaan as die mees gelukkige toestand van `n mens wat eers was; want sy sigself-aanwesig-voel is selfs in die gelukkigste toestande op sigself al slegter, omdat met die gelukkige bestaan ook die vrees bestaan om maklik in `n ongelukkige bestaan te kan oorgaan, of om eers deur die dood gewis en seker die gelukkige toestand te moet verloor.

[5] Die volmaakte nie-bestaan ondervind nòg die genietinge van die geluk, nòg die betreuring van die verlies daarvan, wat sekerlik kom. `n Ware filosoof van my soort sal daarom deur geen natuurlike dood afgeskrik word nie, maar wel deur `n marteldood! Want die liewe natuur het die mens tog nie uit `n stof wat in sy aardhumus geproduseer is, voortgebring, om hom deur sy medemense te laat martel nie?! Kortom, ek vind die werk van die natuur baie wys, hoewel ek nou ook nie juis elke werking van die ruwe natuurkrag as volstrek wys en doelmatig beskou nie; maar ek sal nooit daaroor kla nie.”