Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 58

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die invloed van die liefde op die verstand

58 RAFAEL sê: “Maar vriend, jy maak jou in sekere sin bedruk oor iets waarvan jy maar net veronderstel dat ek so daaroor dink; hoe kan jy van my dink dat ek `n teenstander is van `n goeie verstand by mense?! As ek aan jou gesê het dat jy die Nasaréner nou hier met jou skerpte van verstand behoort te sien en te vind, wou ek jou maar net daarop wys dat ook die helderste verstand by verre nie toereikend is nie, maar dat dit veral `n saak is vir die gemoed, dus van die liefde, om die Een te soek en te herken, wat Self die hoogste en suiwerste liefde is! Die verstand moet hierby weliswaar nie ontbreek nie, maar dit moet voorafgegaan word deur die liefde! Sonder liefde slaag die suiwer verstand nie as sodanig nie!

[2] Die persoon van die Nasaréner is lank nie die enigste wat hierby belangrik is nie, ewemin die feit dat jy Hom in jou entoesiasme oor magiërs tot `n God maak, maar die belangrikste is wat jou hart daaroor sê!

[3] Indien jy die korrekte graad van warmte daarvoor sou besit het, dan sou jy die Nasaréner al herken het en sou dit nie nodig gewees het om my na Hom te vra nie; want liefde vind liefde gou en maklik. Maar by jou het tot nou toe nog steeds die kil, ofskoon heel nugter verstand oorheers en daarom moet jy nog steeds na Hom vra, wat so naby jou is! Dink jy dat ek daarmee die blinde bygeloof, wat julle Essene nou juis die meeste kultiveer, wil verdedig? O, dan vergis jy jou behoorlik met my!

[4] As ek hierby sê dat die suiwer wêreldse verstand nie voldoende is nie, dan wil dit sê dat die wêreldse verstand, selfs as dit `n hoë mate van suiwerheid bereik het, gepaard moet gaan met `n nog baie hoër staande, suiwer geestelike insig om die Allerhoogste te kan herken. As ek jou dit nou op so `n voor-die-hand-liggende wyse duidelik wil maak, hoe kan jy, as intelligente denker my dan verwyt, dat ek `n teenstander is van die verstand en net ware esels en osse in staat ag tot hoër insig? Merk jy dan nie hoe ver jou suiwer wêreldse verstand weer verby die doel geskiet het nie?!

[5] Sien, vir alle belangrike burgerlike lewensomstandighede het die mense so nou en dan werklik wyse wette bedink en ook bekragtig; maar daar is ook enkeles daarby wat baie wreed is, soos byvoorbeeld die meeste strafwette.

[6] Nou het `n mens `n wet oortree, vernaamlik omdat hy hierdie wet nie ken nie. Die arm van die gereg gryp hom en bring hom voor die streng stoel van die regter wat alle wette goed ken. As hy dan volgens sy suiwer wêreldse verstand `n oordeel uitspreek, dan sal hy die aangeklaagde sonder enige barmhartigheid volgens die Codex poenitentiarium (wetboek van strafreg) ter dood veroordeel.

[7] Maar het die regter, behalwe sy helder verstand ten aansien van die wêreld en die wet, ook `n liefdevolle warm en voelende hart, dan sal hy beswaar aanteken teen die kille wêreldse verstand en die volgende sê: Die wet, miskien meer uit tirannieke heersersdrif so meedoënloos opgestel, kan hier tog nie volledig toegepas word nie!? Want hier moet die duidelike totale onwetendheid met `n bestaande wet in aanmerking geneem word!

[8] Want wanneer iemand op die dak staan en iemand anders benede op die grond sien lê en met bose opset na benede bo-op hom spring om hom te dood of tog in elk geval swaar liggaamlike skade toebring, dan moet so iemand ten strengste gestraf word vir sy boosaardige moedswilligheid. Maar as iemand sommer, alleenlik net uit onverskilligheid, van die dak val en daarby ook iemand wat benede op die grond lê of toevallig verby loop, dodelik verwond, dan is hy immers volledig onskuldig aan so `n ongeluk en dan is dit `n saak van die regter om goed te onderskei watter omstandighede daartoe gelei het dat hierdie persoon tot kwaaddoener geword het!

[9] Indien `n vreemdeling, wat ons skrif, ons taal en ons wette gladnie ken nie, dadelik by die betreding van ons lande alreeds gou en maklik een van ons wette oortree, dan moet ons hom wel aanhou en hom deur middel van `n tolk met ons wette bekendmaak. Eers wanneer hy dan vir die tweede keer `n wet oortree het, waarmee mens hom bekendgemaak het, dan kan hy ook paslik daarvoor gestraf word. In so `n geval is dit nie gepas om te sê, dat onwetendheid met betrekking tot `n wet waarop in `n land eenmaal straf staan, vir niemand as `n verontskuldiging geld nie; want hoe kan iemand `n wet in ag neem waarvan hy soos bewysbaar is, nog nooit iets verneem het nie?!

[10] Kyk en oordeel nou self: Wie van beide regters het hier volgens reg en waarheid geoordeel - die eerste, wat met sy kille verstand net die letter van die wet as riglyn gekies het, of die tweede, wat in sy hart as mens `n geregverdigde mededoë gehad het met die sondaar en daardeur die gebreke en die domheid van die wet aan die lig gebring het?”

[11] ROCLUS sê: “Natuurlik die tweede!”

[12] RAFAEL sê: “Goed! Maar wat het die insig en die skerpte van verstand van die tweede regter verhoog?”

[13] ROCLUS sê: “Natuurlik die liefde in sy hart, wat hom tot erbarming met die sondaar aangespoor het! Hy wou nie die sondaar verdoem nie, daarom het hy dan ook alles kritieser begin te beproef en het daardeur op `n aantal omstandighede afgekom wat vir die sondaar ten goede gekom het.”

[14] RAFAEL sê: “Goed en waar gespreek! Wat volg nou anders daaruit vir elke mens, as dat `n deur allerlei wetenskappe en ervaringe gewekte verstand met betrekking tot alle dinge en omstandighede en rigtings eers dan `n baie skerp insig verkry, wanneer dit verwarm word deur die liefde in sy hart en deur die steeds helder oplaaiende liefdesvlam ook steeds helderder verlig word. Was ek dan `n teenstander van die verstand, omdat ek jou deur bepaalde wenke maar net daarop gewys het dat aan jou skerp verstand die eintlike skerpsinnigheid nog in `n belangrike mate ontbreek en jy dit moet verhoog met die ware liefde vir Hom, wat jy nou eers soek en wat jy vroeër nie in so `n groot mate gesoek het soos wat jy dit nou laat voorkom het nie?!”