Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die ateïstiese geloofsbelydenis van Roclus

21 ROCLUS: “Daarom het ek nou die volgende oortuiging: Weliswaar het ek nie meer aan `n godheid geglo nie, maar wel aan `n geheime, suiwer geestelike, alomteenwoordige krag van die natuur, wat homself orals ernstig en wys en daarby nogtans vriendelik laat sien en voortdurend volgens die wette wat sy grondslag vorm, binne `n bepaalde orde werk en hom beslis nie daaroor bekommer wat die verganklike mense doen nie. Hy ken geen goed en geen kwaad nie; want net die slegte mense bewerkstellig dit onder mekaar. Die groot, heilige natuur weet niks daarvan nie!

[2] Dit is `n groot ongeluk vir die mens om slaaf te wees; maar wie het hom tot slaaf gemaak? Die groot heilige natuur sekerlik nie, maar net die mens wat toevallig sterker is, het uit pure begeerte om self niks te wil doen nie en daarby nogtans goed en gemaklik te lewe, die swakkere tot sy lasdier gemaak en in gelyke mate ook die vee. Wie het die harde, swaar juk op die nek van die os gewerp, wie het die esel, die kameel en die moedige perd belaai en wie het selfs torings op die rug van die geduldige olifant gebou? Wie het die swaard uitgevind en wie die kettings, die kerkers en selfs die uiters smadelike kruis, waaraan julle Romeine die ongehoorsaamste en eiesinnigste mense, wat ookal sou wou heers en moor, vasbind en onder die ergste pyne die dood laat ly? Alles, al die ellende is afkomstig van die mens!

[3] In die groot natuur is alles vry; net die mens is as te ware `n vloek vir homself en vir die gesamentlike ander vrye werke van die groot meesteres, die natuur! Lui mense het eens begin om lugkastele te bou en het die nietige gode uitgedink, wat hulle heeltemal volgens hulleself voorgestel en ook gevorm het soos wat hulle self is, met alle menslike, slegte eienskappe. Met hierdie gode het die mens dus nuwe plaaggeeste geskep, wat uit hulleself die mens beslis nooit kwaad sou doen nie; maar die mens het vir hierdie mensgemaakte gode, wat in werklikheid nooit êrens was en ook nooit êrens sal wees nie, tempels gemaak en het hulleself toegewy as hul plaasvervangers, voorsien van allerlei dwang-, skrik- en plaagmiddels en het daardeur benewens hulle heerskappy oor die swakke mensdom, ook die onverbiddelikste tirannie van die onsigbare wesens wat deur hulle uitgedink is, ingevoer. Hulle, wat in werklikheid nooit êrens bestaan het nie, bestaan nou steeds maar voort tot kwelling van die arme mensdom, wat daarenteen des te meer tot nut en voordeel van die magtiges is, omdat deur die magtige invloed wat hulle voorgee om uit te oefen, hulle die mensdom baie makliker in blinde gehoorsaamheid kan hou, as net alleen deur die swaard. En dus kan mens uit die aard van die saak met die suiwer verstand dink wat mens wil, tog staan die sterk, magtige mens orals vir alles wat maar ooit moontlik kan voorkom en heers weldra as `n koning wat goed voorsien is van swaard en lans en gelyktydig ook as `n almagtige plaasvervanger van die gode. Wee die een wat dit as oningewyde mens sou durf waag om agter die sluier van Isis, wat deur mense geweef is, te kyk! O wee, o wee, o wee, hy sou goed deur die gode toegetakel word!

[4] Dit was tot op hede my onafhanklike, vrye geloof, wat egter nou deur hierdie verskynsel `n heel jammerlike stoot in die ribbes gekry het en ek begin nou dan tog baie saggies te glo aan `n hoër Goddelike wese, omdat ek maar al te duidelik insien dat geen mens so `n werk met sy bekende kragte tot stand kan bring en ook nooit tot stand sal bring nie. Dit kan dus maar net `n werk van `n God wees, wat weliswaar ook maar net `n soort mens kan wees, maar `n mens aan wie die kragte van die groot natuur maklik en altyd onvoorwaardelik gehoorsaam, soos gewone soldate aan `n beproefde, insigryke veldheer, van wie hulle wel weet dat hy nog nooit `n slag verloor het nie.

[5] Maar hierdie God-mens wil ek graag nou leer ken! U, geëerde Cirénius, is dit in geen geval nie. Want indien dit vir u moontlik sou wees, sou die groot Romeinse keiserryk alreeds lankal deur `n berghoë muur omring gewees het, wat selfs `n adelaar angstig sou maak as hy daaroor moes vlieg. Gee aan ons, geëerde meester, meester, meester daaroor ietwat inligting, dan sal ons weer rustig huistoe gaan!”

[6] CIRÉNIUS sê: “Dit sou alles goed en reg wees, as dit sommer selfs op staande voet sou kan gebeur, maar dit is nie so eenvoudig soos julle dit miskien vir julleself voorstel nie. Mens kan `n veldwager wel vra hoe laat dit is en hy sal, as die son skyn, met behulp van sy stok wat in die grond gesteek is, presies en sonder moeite die uur van die dag aan julle meedeel, waarvoor julle aan hom dan `n stater moet gee; maar hier gaan dit nie so nie! Wees geduldig, miskien kom daar uiteindelik tog nog iets te voorskyn, maar dit sal bietjie meer kos as `n stater vir `n veldwager!”

[7] ROCLUS sê: “Wel, vir so-iets kan ons ook `n pond goud en tien pond silwer, of nog baie meer, op die spel plaas!”

[8] CIRÉNIUS sê: “Ja, as mens so-iets vir heelwat goud of silwer sou kon koop, dan was dit natuurlik iets anders! Maar ek kan aan julle in hierdie geval met die grootste stelligheid verseker, dat dit vir geen skatte ter wêreld verkry kan word nie! Waarvoor dit egter wel verkry kan word, daaroor moet julle eers onderrig word en self deur menige beproewinge gelouter word! Terwyl julle deurdrenk is van volkome ongeloof aan `n persoonlike God en aan ander menslike wesens wat aan God gelyk is, en daarin formeel opgevoed is, wil julle dadelik van my te wete kom wie die Een is vir Wie dit moontlik was om dit alles alleenlik deur Sy almagtige wil in `n oogwink te voorskyn te roep, om dan, as julle onder mekaar is, behoorlik daaroor te kan lag! Daar sê ek: Stop, liewe mense, ons sal eers sien of julle in staat is om iets te glo! As julle gladnie meer kan glo nie, dan kan die mededeling deur my ook nie gegee word nie! Kan julle egter nog glo, dan sal julle, sodra die geloof lewend word, ook in staat wees om al die ander te ontvang! Het julle my goed begryp?” 

[9] ROCLUS sê: “Ons het dit baie goed verstaan, want geeneen van ons is dom nie! Maar u wil is vir ons voorlopig so goed as onmoontlik, waarvoor ons aan u ons redes al gedeeltelik uiteengesit het en nog verder wil en kan duidelik maak, as u hulle wil hoor!” 

[10] Gedryf deur My woord wat Ek hom in die mond gelê het, sê CIRÉNIUS: “Doen dit, dan sal ek daaruit aflei hoe ver julle julleself van die weg van die waarheid verwyder het! Laat julle redes maar hoor en dan sal ek baie goed in staat wees om daaruit af te lei of julle waarlik geestelik gevorm kan word en of mens julle wens kan vervul! Want as julle suiwer geestelik nie meer gevorm kan word nie, dan kan julle maar weer in vrede hiervandaan weggaan en lewe volgens die leer van julle Epikuris, wat vir my een van die allerminste wêreldwyses is!

[11] Ja, as ryk en fisiek kerngesonde mens kan mens die beste volgens Epikuris in hierdie wêreld lewe; want die grondbeginsel, “mens moet terwille van jouself eerlik en verdraagsaam teenoor elkeen wees, maar altyd teenoor jouself die eerlikste!” klink wel goed vir wêreldse ore, maar die siel van `n mens wat deur God se asem gewek is, huiwer daarvoor, omdat so `n Epikuriër tog altyd net `n geslepe egoïs is en net vir sy eie voordeel sorg! Wat kan alle mense hom skeel? As hy geen voordeel van hulle kan trek nie, dan kan hulle almal deur die weerlig gedood word.

[12] En dit is die hooftrekke van `n Epikuriër! Hoeveel geesteliks daar in so `n gemoed van klip gehuisves is, sal hopelik selfs wel vir elke blinde oorduidelik wees. Ja vir die ryk word op hierdie aarde deug die leer van Epikuris die meeste, veral wanneer dit met Stoïsynse sinisme deurspek word soos wat dit by julle die geval is; maar vir die rykword van die gees deug dit allermins, omdat dit die suiwer liefde vir God en die arme naaste totaal uitsluit. Dit was om aan julle lig ter insig te gee van julleself! En laat nou die redes hoor vir julle egte Esseense ateïsme!”