Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 138

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Oor die wese van die Heer

138 Nou kom één van die leerlinge van Johannes na RafaEl toe en sê: “Luister, wonderbaarlike jongman, ek het nou nog as enigste versoek aan jou, dat jy jouself, wat jou eintlike wese betref, ietwat van naderby aan ons bekend sou wil maak, as wat jy tot nou toe gedoen het! Want dat jy `n baie misterieuse wese is, daaroor is daar in my geen enkele twyfel meer nie; want wat jy nou alles al in `n kort tydjie verrig het, kan `n natuurlike mens nie verrig nie, en jou wysheid reik ook oneindig baie verder as alle tot nou toe aanwesige menslike kennis. Daarom sou ek tog van naderby wil weet wie jy eintlik is! `n Geheel natuurlike mens is jy absoluut nie, maar jy kan die gees van Elia of ook van `n ander groot profeet wees; want daar staan geskrywe dat in die tyd wanneer die Messias na die mense toe sal kom, ook Elia aan Sy sy sal rondgaan as `n getroue getuie vir die blinde mense. En ook staan daar geskrywe: “In die tyd sal julle God se engele sien opstyg en neerdaal tussen hemel en aarde, en hulle sal Hom dien wat gekom het in die Naam van JaHWeH, en ook die mens, wat van goeie wil is.”

[2] Jy kan sodoende maklik, oftewel die gees van Moses of Elia wees of selfs `n suiwer engel van God, wat maar net skynbaar `n liggaam aangeneem het om vir ons mense sigbaar van nut te kan wees. Sê My ten minste, of ek nou miskien nie taamlik waar geoordeel het nie!”

[3] RafaEl sê: “Dit sou wel so kan wees, maar tog is dit nog enigsins anders! Maar hoe dit is, sal julle te gelegener tyd van die ander leerlinge hoor. Die heil van julle siel hang nie daarvan af of julle dit presies al dan nie weet nie; maar dit hang daarvan af of julle in die Heer glo, Hom bo alles liefhet en volgens Sy leer leef en handel. Alleen daarin moet julle die ryk van God en sy geregtigheid soek; al die ander sal dan vir julle as vrye toegif daarby gegee word.

[4] As julle my as die gees van Moses of Elia beskou, vergis julle julleself; want die gees van Elia was in Johannes, wat julle meester was. Moses het egter al sy getuienis vir die Heer gegee voor die oë van Sy leerlinge, en sal dit aan die ander volkere meedeel, wanneer dit die tyd daarvoor sal wees. En daarom weet jy nou voorlopig genoeg.”

[5] Hierop gaan RafaEl weer naas My sit en neem brood en wyn tot hom. Ook die hoofman gaan saam met die leerling van Johannes sit en neem ook nog brood en wyn tot hom. Die leerling neem egter geen brood en wyn nie, en ook sy mede leerlinge nie; want die leerlinge van Johannes lei `n streng lewe en vas baie. My leerlinge eet en drink egter nog.

[6] Toe sê één van die bekeerde Fariseërs vir My: “Heer en Leraar, waarom vas U leerlinge nie, terwyl die leerlinge van Johannes soveel vas?”

[7] Ek sê: “Ek is `n egte bruidegom vir diegene wat My navolg en wat Ek uitgekies het. Waarom moet hulle dan vas, as Ek by hulle is? Maar wanneer Ek as ware bruidegom van hulle siel, persoonlik nie meer by hulle sal wees nie, sal hulle ook wel vas in die dae dat dit nodig is. Origens sal niemand die ewige lewe van die siel verkry omdat hy baie gevas het nie, maar alleen diegene wat die wil doen van Die Een wat My gestuur het.”

[8] Dit val die hoofman op en hy vra My onmiddellik: “Heer en Leraar, wat sê U nou dat alleen hy die ewige lewe van die siel sal verkry, wat die wil doen van Die Een wat U gestuur het? Wie is dit, wat U gestuur het, en wat is Sy wil? Verklaar U hieroor nader, anders sou ek na aanleiding van hierdie uitspraak van U in reëlregte twyfel moet raak! Want die een keer is dit so - soos ek ook begryp het uit die verklaring van die Psalms in die huis van ons herbergier - dat U Self en alleen U die Heer is, en dat diegene wat ewige lewe van die siel sal verkry, wat U leer aanneem en daarvolgens leef en handel, en nou sê U Self dat alleen hy die ewige lewe van die siel sal verkry, wat die wil doen van Die Een wat U gestuur het! - Kyk! - dit is nou baie dubbelsinnig, en `n mens soos ek, wat dit beslis volkome ernstig het om die ewige lewe van sy siel te bereik, raak dan egter in die war en weet nie tot wie hy hom moet wend nie, wat hom die wil van Die Een wat U gestuur het, getrou en waaragtig sou kan meedeel! Daarom vra Ek U of U Hom nie ten aansien van hierdie uitspraak nou duideliker en beslister sou wil uitdruk nie!”

[9] Ek sê: “Daar is nog wel baie duisternis in julle! Die Een wat My gestuur het is My ewige Vader en is in My; en so het Ek vanuit My liefde vir julle mense, My dan ook Self in hierdie wêreld gestuur om julle die ewige lewe te bring en te gee.

[10] My woord en My leer, wat julle die weg na die ewige lewe toon, is egter die wil van Die Een wat in My is en wat My gestuur het. Want die Vader, as die ewige Liefde, is in My, en Ek, as Haar lig, is in Haar.

[11] Kyk maar eens na die vlam van die lamp wat hier op die tafel brand! Kan jy die lig van die vlam skei of die vlam van die lig? Die vlam is nou dit wat Ek “Vader” en “Liefde” noem, en die Lig is Haar Seun, wat deur die vlam uitgestuur word om die duisternis van die nag te verlig. Is die vlam en haar lig dan nie één wese nie? En is die vlam dan nie eweseer in die lig soos die lig in die vlam is nie? En wanneer dit nou so en onmoontlik anders is, dan openbaar die wil van die Vader Hom tog in die van Hom uitgaande lig.

[12] Wie derhalwe in die lig wandel, wandel ook volgens die wil van Die Een wat My as Sy Lig in hierdie wêreld gestuur het; en wie in die lig wandel, kan nie verdwaal nie en moet die ewige lewe oes, omdat die lig, waarvolgens en waarin hy wandel, die ewige lewe self is.

[13] Wie die lig verlaat en opnuut in die eie wêreldse nag begin te wandel, kan die ewige vrye lewe van die siel nie ontvang, solank hy nie oorgaan na die lig van die lewe nie. En nou sal jy, hoofman, My waarskynlik goed begryp het?”

[14] Die hoofman sê: “Ja, ja, Heer en Leraar, nou is dit vir my weer heeltemal duidelik en ek weet nou wat ek moet doen om tot die ewige lewe te kom en ek dank U nogmaals vir hierdie uiters belangrike les. Maar ek het U so flussies in U gesprek met die Fariseër onderbreek en vra U nou om verder met hom te praat!”

[15] Ek sê: “Vir hom het Ek al gesê wat hy nodig het, daarom hoef die gesprek met hom nie vervolg te word nie!

[16] Ek sou vir julle almal egter nog baie te sê gehad het, maar nou kan julle dit nog nie verdra nie; wanneer die gees egter in julle sal ontwaak, die gees van die waarheid, wat Ek in julle sal wek, dan sal hy julle in alle waarheid en wysheid binnelei. In die lig van die gees sal julle Hom almal eers volledig ken, wat dit nou vir julle gesê het. - Maar dink nou na oor wat julle gehoor het en praat met mekaar daaroor; Ek gaan egter `n bietjie uitrus.” 

[17] Na hierdie woorde word dit `n rukkie stil in die saal; want elkeen dink `n tyd lank na oor alles wat hy gehoor en gesien het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205