Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 199

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Oor die doel en die nut van reis

199 (Die Heer.) “As julle na die bye kyk, sal julle verskillende soorte onder hulle aantref. Ten eerste is daar die byekoningin, wat die hoof van die huislike orde is, vervolgens is daar werkbye, wat binnenshuis werk, en verder is daar versamelbye, wat ywerig reise moet maak om heuning en was te versamel; die heuning vir die voeding en die was vir die bou van selle. Kyk, so is daar ook mense wat vir die huislike arbeidsin aangebore is en hulle is daarom glad nie reislustig nie. As alle mense die eienskap sou gehad het, sou hulle maar al te gou heeltemal verkrummel het en net soos diere verwilderd gewees het in hulle ou sedes en gewoontes.

[2] Daarom is daar selfs in `n klein gemeenskap ook steeds mense wat `n groot drang tot reis het. Hulle doen op hulle reis allerlei goeie en dikwels ook bitter ervaringe op; ryklik daarvan voorsien kom hulle weer tuis en bring vir hulle verwante allerlei geestelike heuning en was saam, en word so tot leraars en bevorderaars van alle kultuur in hulle geboorteland, wat beslis `n baie goeie saak is.

[3] Maar wanneer die mense, wat God uitgekies het om die hele wêreld rond te trek, om vir die mens tuis allerlei skatte te versamel, te sterk in hulle vryheid om te reis belemmer word, dan gebeur dit beslis teen God se wil in en is dit dus sleg en behoort tot die hel.

[4] Wat sou mense van My Self sê, as Ek nie na die mense toe sou reis in baie verskillende plekke nie? Sou dit hulle skuld wees as daar geen lewenslig onder hulle sou kom nie?

[5] Maar Ek het Self gesê en sê nog steeds vir al My leerlinge: “Gaan uit oor die hele wêreld na al die volkere en verkondig hulle die evangelie!” En as Ek dit sê, kan Ek tog onmoontlik toelaat dat die geregverdigde vryheid van reis van die mens op bose wyse beperk word, maar dan kan Ek dit maar net toon in die lig, waarin Ek dit sien! Want by `n algehele inperking van die geregverdigde vryheid van reis is dit immers so goed as onmoontlik om My leer te versprei, en daarom sal Ek ook weet om elkeen te tugtig, wat daarmee in stryd met My wil handel. 

[6] Neem julle Essene dan ook van nou af aan julle taak op julle, vir hierdie doel en sien daarop toe dat die strate en weë vry word, dan sal Ek julle daarvoor soveel meer seën en julle mag oor alle bose geeste gee, en dan sal daar moet gebeur wat julle in My Naam sal wil!

[7] Vra julle eers af of `n mens, aan wie dit verbied is om te soek, ooit iets kan vind! Soek, vra en aanklop aan die deur van die naaste moet elke mens volkome vry gelaat word. - Onthou dit goed, wat Ek julle nou by die opgaan van die son gesê en getoon het, en handel daarvolgens!”

[8] Die owerste sê: “O Heer en Leraar! Ons sal doen wat maar in ons vermoë lê en sal lê, en wil dat U dit deur U barmhartigheid nog vir alle tye in ons vergroot! Ons het die ou misbruik, in die besonder in hierdie streek, al lankal met die grootste afkeuring bekyk en het dit ook vir sover moontlik teengegaan. Maar dit het steeds weinig opgelewer; want dit word vir ons al vinnig duidelik dat nié soseer Rome as wel Jerusalem met Herodus en die tempeldienare daaragter sit, wat vir ons `n doring in die vlees was. Hulle het steeds hulle geheime bodes na hierdie Arabiere gestuur en het hulle vergunning verskaf om te roof, en ten slotte moes ons selfs met die vorm van optrede saamgestem het, om nie self in gevaar te kom nie. 

[9] Maar omdat ons nou weet wat U wil is, sal ons van nou af aan beslis baie kragtiger teen hierdie ou praktyke optree en al die baie weë sal beslis van hierdie rowers gesuiwer word. Maar op baie ander plekke, waar ons nie kom nie en, waar vir sover ons weet, die tempeldienare nog baie erger tekere gaan, sal U, o Heer en Leraar, wel sorg dat daar met die grootste vasberadenheid teen hulle opgetree word!”

[10] Ek sê: “Daarvoor is al uitgebreid gesorg en in die toekoms sal nog meer daarvoor gesorg word, wanneer dit nodig is!

[11] Elkeen, wat in My Naam oor die hele wêreld sal reis om die volkere My leer net so suiwer te verkondig soos wat hy dit van My verneem het, sal veilig oor alle weë en strate reis en deur geen enkele straatrower aangeval word nie. Hulle sal oor slange, salamanders en skerpioene kan loop en hulle sal hom nie kan skaad nie; en as iemand vergiftig word deur sy ete of drinke, sal dit sy liggaam en bloed geen nadeel berokken nie. En as hy in `n hele trop wolwe, leeus, tiers, pumas, hiënas, bere en erdvarke beland, dan sal hierdie bose diere hom nie net geen enkele kwaad aandoen nie, maar hom in geval van nood van diens wees; want `n mens wat van God se Gees vervul is, is ook meester oor die grimmigheid en toorn van boosaardige diere, soos die Heer ook oor alle elemente is, as hy die geloof daarvoor sonder enige twyfel in sy hart en ook in sy siel dra.

[12] Maar met verloop van tyd sal daar ook baie valse profete in My Naam na die vreemde volkere in alle lande van die wêreld reis - weliswaar vir die skyn om My leer onder hulle te versprei, maar inderwaarheid maar net om van die vreemde volkere baie aardse goedere te verkry, en om die rede sal hulle My leer ook so draai en verander dat dit vir hulle winsbejag die beste sal pas.

[13] Wel nou, dergelike bodes sal nie hoef te reken op die hulp, soos wat Ek dit ook hier aan julle beloof het nie! Want wie nie slegs vir My en vir die waaragtige verspreiding van God se ryk op aarde onder die mense sal werk nie, maar net vir homself en sy wêreld, sal nooit deur My erken word en ook geen beskerming of loon van My kan verwag nie; hy kan sy beskerming, sy hulp en sy loon in homself en in sy wêreld soek!  

[14] En ook al roep hy in sy nood tot My: “Heer, Heer, help My in my groot nood!”, dan sal hom as antwoord in sy hart en gewete gelê word: “Waarom roep jy, wêreldling, na My om hulp?! Ek ken jou nie en het jou ook nog nooit geken nie; want jy het op jouself, sonder enige geloof in My en slegs vanweë wêreldse gewin, sogenaamd in My Naam as `n valse leraar oor die hele wêreld gereis. Help jouself maar, noudat jy in nood en ellende sit; want Ek is jou geen hulp verskuldig nie, aangesien jy vir My ook niks gedoen het nie. Jy het naamlik nog vrywillig daarop uitgegaan, gedrywe deur nóg die geloof in My, nóg deur die ware liefde vir die sieleheil van die mens, maar alleen ten behoewe van jou eie aardse welsyn! En nog minder is jy ooit deur My daartoe geroep of uitgenooi nie! Jy het jou ter wille van jouself in gevaar begewe; help jouself nou dan ook, of miskien kan hy jou help, wat jou gestuur het!”

[15] Weliswaar sal in die toekoms ook My ware leerlinge met die wêreldse mens en van die kant van die baie valse profete en leraars, wat sogenaamd in My Naam optree, baie las hê en baie vervolging moet deurstaan terwille van My ware Naam, maar hulle sal daarby steeds op My hulp en op My spesiale beskerming en beloning kan reken, - maar die wêreld en haar profete nooit! Hy sal homself slegs met die swaard in die hand kan beskerm en teen gevare kan beveilig; maar uiteindelik sal dit so wees: wie met die swaard omgaan, sal ook deur die swaard ten gronde gaan!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205