Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 160

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Oor godsdiens en sinvol bid

160 Maar omdat ons deur die dorp trek, merk baie ons op en sien dat dit Ek was; want sommiges ken My nog van My verblyf van die vorige jaar, en ander herken My omdat hulle My in Jerusalem gesien het. Nou kom hulle na My toe en vra My of Ek nie ten minste `n nag by hulle in die plekkie sou wil bly en tewens baie siekes wou help nie. Want die tekens, wat hulle enkele dae gelede in die nag gesien het, en die ware vuurstorm van die afgelope nag het op sommige innerlike swak en vreesagtige mense `n dermate bose invloed gehad, dat hulle nou baie siek op die bed lê en die arts van die plekkie kon hulle nie help nie, omdat hy nie die kwaal en dus ook die geneesmiddel daarvoor ken nie.

[2] Ek hou My eers in en sê vir diegene wat by My aanhou: “Het julle dan nie gehoor dat God almagtig en barmhartig is nie? Waarom bid julle nie tot God en vra Hom om hulp as julle in die ellende sit nie?”

[3] Eén van hulle sê: “Beste Heer, U kan maklik praat, omdat God U alles gee waar U Hom op U geheime manier om vra! Maar ons mense kan offer, bid en smeek soveel ons maar kan en wil, dit help ons alles niks; want God let nie op ons nie, hoewel ons die wette van Moses nog so goed as maar moontlik is getrou in ag neem. Maar dit was in die tyd van die profete ook ongeveer so: God het altyd net die gebede van die uitverkore profete verhoor; maar dit blyk dat hulle hulle lewe lank kon bid en smeek om die een of ander en het tog niks ontvang nie. O, dit sou vir ons duisend keer beter wees as God in geval van nood steeds ons gebede sou verhoor as dat ons, omdat God ons nie verhoor nie, hulp moet soek by die swak mens, wat ons maar selde kan help! Maar wat kan en moet ons anders doen, as ons maar al te duidelik insien dat al ons bid en smeek ons geen hulp in ons groot nood verskaf nie?”

[4] Ek sê: “O, met hierdie niksseggende verontskuldiging van julle bereik julle niks by My nie! Dit ontbreek julle nagenoeg heeltemal aan geloof en egte lewende vertroue op God en daarom verhoor God julle gebede ook nie en slaan Hy geen ag op julle offers nie. Waarom bid julle self eintlik nie vol geloof en vertroue nie? Omdat julle dit te ongemaklik vind! Daarom het julle in die gemeente bepaalde deur die tempel gevolmagdigde voorbidders, wat julle betaal, sodat hulle dit of dat vir julle van God sal afsmeek. As julle julle geloof en vertroue aan hierdie huigelaars kan skenk, wat hulle vir hulle voorgewende moeite altyd goed laat betaal en wie se bid en smeek julle nog nooit hulp gebring het nie - waarom stel julle julle geloof en vertroue dan nie liewer op God die Heer en Vader Self nie?

[5] Ek sê vir julle: dit kom deur julle eie luiheid! Julle is aards welgestelde besitters van goedere en reeds vanaf julle jeug gewoond om julle knegte en diensmaagde vir `n karige loon vir julle te laat werk en daarby as die streng here uit te hang, en julle glo ook dat die voorbidders ook by God met sukses vir julle moet werk, omdat julle hulle goed daarvoor betaal. Maar dan keer God Sy aangesig van julle af en luister nooit na die weersinwekkende, sinlose en geeslose geblêr van die lippe van julle huigelagtige godsdienare nie. En dit is dan ook die rede waarom God julle nie kan, wil en mag help nie. Want as God dit sou doen, dan sou Hy as die hoogste, ewige wysheid, liefde en mag julle nog dieper laat wegsak in die volledige verderf, wat slegs deur julle luiheid veroorsaak word.

[6] Wek daarom julle geloof in God en die ware, innige liefde vir Hom en `n vaste vertroue in Hom tot lewe! Bid en smeek self in die gees en in waarheid tot Hom, dan sal Hy julle ook sekerlik verhoor! Bid dus self sonder onderbreking, doen ware boete en verdra ook die leed wat met `n goeie rede oor julle gekom het met geduld en ware oorgawe aan die goddelike wil, soos julle dit ook van die geduld van Job kan leer, dan sal God julle uit elke nood help, vir sover dit by die heil van julle siele ten goede kom!

[7] Weliswaar het julle My nou Self gesmeek om julle uit julle nood te bevry, want julle beskou My as `n profeet, aan wie God `n groot mag gegee het - en kyk, Ek kan en wil julle nou net so min verhoor en help as God Self; want Ek en God, wat julle nie ken nie, waarom julle ook nie in Hom glo nie, is één van Gees, één van wil en één van sin! Wat julle met julle manier van bid en smeek nooit by God kan bereik nie, dit sal julle ook nie by My bereik nie! Doen dus eers wat Ek julle aangeraai het, dan sal Ek julle ook help, ook al oornag Ek nou nie by julle nie! Maar sommiges van julle het My tog heeltemal na Kapernaum in Galilea gevolg; waarom het julle eintlik weer van My af weggegaan?”

[8] Eén van hulle sê: “Heer! U het daar in die sinagoge `n eienaardige lering gegee oor die eet van U vlees en die drink van U bloed en het dit so na vore gebring dat niemand die ewige lewe van sy siel sou kan ontvang, as hy nie die vlees van U liggaam sou eet en die bloed daarvan sou drink nie. Toe vrees ons dat u kranksinnig geword het en het ons onsself dan ook teruggetrek, omdat ons nie die naam wou kry om leerlinge van `n kranksinnige geworde profeet te wees nie. Maar toe ons u `n kort tydjie gelede in Jerusalem op die fees in die tempel terugvind en ons met ons eie oë en ore daarvan oortuig dat u net so wys en magtig was soos ons U vroeër leer ken het, toe glo ons dan ook weer in U en toe U nou deur die plekkie van ons trek en ons u wel herken het, kom ons nou dan ook vol vertroue na U toe en het ons nood aan U voorgelê. As U ons kan en wil help, dan sal ons onsself nie ondankbaar betoon nie; maar as U dit nou nie kan en wil doen nie, om die rede wat U vir ons uiteengesit het, dink dan aan ons as U ons daarvoor geskik en waardig ag!”

[9] Ek sê: “Handel daarvolgens, dan sal die hulp nie agterweë bly nie!”

[10] Hierop gee Ek die leerlinge die teken om verder te gaan en ons trek dan ook sonder verdere oponthoud.

[11] Sommiges uit die dorp volg ons weliswaar `n tyd lank; maar omdat ons vinnig voortgaan, raak diegene wat ons volg, spoedig ver agter, keer toe weer om en gaan terug na hulle dorp.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205