Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 108

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die liefdesheld deur vyande omring. Christus se liefde oorwin alles

108 Wanneer Bruno die vertrek van sy vyande wil binnegaan, stel verskeie van hulle hulle dadelik op voor die deur en sê met opgewonde stemme: "Terug, ellendeling! Wat het ons met jou te make? Jy was altyd vir ons weersinswekkender as die dood en `n voorwerp van ons haat en diepste veragting. Wat moet ons nou hier in die hel met jou maak? Na die duiwel met jou, diermens!"

[2] Bruno sê moedig: "Beste vriende, wat het ek julle ooit aangedoen, dat julle so verskriklik haatlik is. Ek sal alles doen wat julle volgens reg en billikheid van my verlang, sodat julle weer goedgesind mag word!"

[3] Die woestelinge in die deuropening skreeu: "Ellendige diermens, jy kan niks doen om ons mening oor jou te verbeter nie! Ons verlang niks anders van jou as dat jy ons verlaat nie. Jou gestalte staan ons meer teë as die onderste gedeeltes van die hel! Gaan daarom goedskiks van ons af weg, anders skeur ons jou in stukke!"

[4] Bruno sê: "As julle daardeur met my kan versoen, laat ek my graag deur julle kruisig. Maar julle moet my net belowe, dat julle geen wrok teen my sal koester nie!"

[5] Die woestelinge sê: "Dink jy dat dit ons tot eer sal strek? Om jou te kruisig, dit sou vir ons tog jou reinste skande wees! Jou hoogstens neerslaan soos `n besmette hond, dit sou ons met `n graagte doen, as ons toevallig goed geluimd is. Maar om vir jou meer moeite te doen, sal vir ons werklik belaglik wees. Daarom, maak dat jy wegkom en vererg ons nie langer met jou afskuwelike teenwoordigheid nie!"

[6] Bruno sê: "Maar agtenswaardige vriende, dit is vir my maar al te goed bekend, dat julle my altyd op aarde gehaat het, en waar moontlik, vervolg het. Hoeveel moeite ek my ookal gegee het om agter te kom waarom, was vir my tevergeefs. Julle het my maar net vervolg omdat my gesig julle nie aangestaan het nie. Hier in hierdie wêreld het ons gesigte tog baie verander. Ek dink nou baie anders as wat ek op aarde gedink het en het heeltemal `n ander mens geword. Dit kan met julle tog ook die geval wees.

[7] Sê my tog wat ek julle op aarde aangedoen het! Ek is nou in die geleentheid om julle honderdvoudig te vergoed wat ek julle, al was dit maar onbewus, verskuldig is. Vergeef my net en word ietwat vriendeliker teenoor my! Ek doen heeltemal geen beroep op julle vriendskap nie, dit sou van julle, my uitgesproke vyande, te veel gevra wees!

[8] Die woestelinge sê: "Wat baat jou gepraat en dom geklets! Jy is nou eenmaal `n aaklige vent en bly dit in ewigheid. Oënskynlik doen jy, asof jy die uitsonderlikste en braafste mens is, maar dan is jy agteraf `n skurk en is jy nooit te vertrou nie. Weet jy nog hoe jy ons op die beurs behandel het? Jy het `n aanhoudende koersdaling gesien, sodat ons van skrik ons aandele verkoop het, waarna jy dit self gekoop het. Jou lomperd, hou jou maar nie dom nie. Ons ken jou! Daal die koerse dalk ook hier, dat jy nou soseer ons vriendskap soek?"

[9] Bruno sê: "Aha, daar druk die skoen dus nou! Og, vriende, as julle wrok teen my daarvandaan kom, dan hoop ek dat ons spoedig die beste vriende sal word, want ek kan julle die stellige versekering gee dat julle met julle haat teen my volkome op `n dwaalspoor is. Kyk, ten eerste kon ek, netso min as julle, vooraf bepaal of die koers sou styg of daal, en ten tweede kan julle nie bewys dat ek die ter saaklike effekte opgekoop het, wat julle met `n verlies aan die bank terug verkoop het nie. Kyk hoe weinig gegrond julle wrok teen my is. Ek het julle tog nooit gedwing om te koop of te verkoop nie? Wie het julle daartoe oorgehaal om julle effekte teen `n laer stand van die koers te verkoop en by `n hoër te koop? Ek sekerlik nie, en andere ook ewemin. Julle was self so dwaas, maar julle wil die domheid nie aan julleself toeskryf nie. Wanneer julle self `n flinke spekulasiefout begaan het, gee julle die skuld aan die eerste en die beste wat by die spekulering slimmer was as julle! Laat julle julleself nie uitlag nie! Wat kon julle effekte my en my effekte julle skeel, ek het gekoop wanneer ek wil, en julle ook wanneer dit vir julle raadsaan gelyk het. Of julle verkoop en ek koop! Dit is tog iets heel normaal! Waarom dan die wrok teen my? Valse gerugte het ek nog nooit versprei nie, en met misleidende voorligting het ek my nog nooit besig gehou nie.

[10] "Goed" sê een uit die vyandige geselskap, "jy het gehandel soos wat jy ons vertel het, maar dit kan ons woede en haat nie teenoor jou verminder nie, omdat jy op aarde altyd anders gedink het as wat jy met jou mooi praatjies voorgedoen het. Sê jy swart, dan was dit sekerlik wit, dan was dit heel waarskynlik swart! En die teenoorgestelde was die volle waarheid. Jou geniepsige skerp­sinnigheid het egter die gevolg gehad dat ons jou uitsprake verkeerd vertolk het. Dat dit vir ons nie altyd goed uitgeval het nie, bring die wisselvallighede van die spel met hom saam. Sou ons egter altyd volgens jou uitsprake gehandel het, dan sou ons sekerlik alles in `n kort tydjie verspeel het. So staan die sake en daarin vind ons geregverdigde haat teen jou sy oorsprong. Bewys ons die teendeel, dan sal ons self om vergewing vra en jou beste vriend wees.

[11] Bruno sê: "Goed! Vraag nommer twee: Wie is daar op die beurs eintlik in alle finansiële geheime ingewy? Antwoord: Die bank- en beursbeamtes. Goed! Vraag nommer drie: Word die talryke geïnteresseerdes van die beurs wel altyd volgens waarheid deur die goedingeligde beamptes voorgelig? Antwoord: Nee, as daar iets verkeerd gaan, kom die mense nie mooi agter die waarheid nie. Goed! Vraag nommer vier: Hoe en waardeur het ek agter die waarheid gekom? Antwoord. O, baie maklik! Met steekproewe kan `n ondersoeker agter soveel dinge kom, wat vir die eerlike mens verborge bly! Goed! Die mens herken `n voël aan sy lied! Bring my alle bank- en beursbeamptes hier en hulle sal julle sê of ek ooit ook die laagste in rang met `n stuiwer vir die verraai van `n bankgeheim sou omgekoop het! Oor julle vertel die slegte wêreld wel, dat julle by `n baie kritieke aangeleentheid `n ingewyde heimlik `n duisend dukate swaar sak in die hand sou gegee het, met die bedoeling dat hy julle vooraf sou sê hoe die sake hulleself sou ontwikkel. Waarop julle dadelik die volgende dag byna al julle effekte met `n aansienlike verlies omgeruil het vir klinkende munt en daarmee vervolgens in die buiteland `n geheime handel onderneem het, waardeur julle `n tweede keer op die fles gegaan het. Sê eers, het ek julle dalk ook daartoe aangepor deur my swart-vir-wit?

[13] Nou staan die mopperaars raar en kyk en weet nie wat hulle daarop moet antwoord nie. Maar Bruno gaan verder en sê: "Vriende, het ek julle ook die raad gegee om gesamentlik dertig duisend gulde in `n kelder te laat inmessel? Toe die standreg daar in Wenen geproklameer was, waarby soldate tydens `n huisbesoek die holklinkende plek in die muur oopbreek en hulle voor hulle die heuglike vonds tot op die laaste penning toegeëien het…ek dink dat my swart-en-wit niks daartoe bygedra het nie! Kortom, julle het self skuld daaraan dat julle dit verloor het en meen onregmatig dat ek op hoogte was van julle spekulasiegeheime en julle sou verraai het. Hoe sou so-iets moontlik gewees het, aangesien ek julle, behalwe op die beurs, nooit met my aanwesigheid lastig geval het nie? Ek het nie die minste skuld aan julle ongeluk nie, daarvan kan julle absoluut verseker wees! God is my getuie! Is julle nog van mening dat ek julle ongelukkig gemaak het, bewys dit aan my voor God, dan sal ek alles doen om my skuld teenoor julle honderd­voudig te vergoed!"

[14] Na `n lang nagedagtenis sê een van hulle: "Die saak lê inderdaad soos jy dit vir ons uitgelê het, maar as jy nie daarby betrokke was nie, begryp ons nie hoe jy aan die noukeurige kennis oor ons situasie gekom het nie! Hoe kan dit vir jou so volkome bekend wees asof jy dit alles gereël het? Daar sal in Wenen nog baie sulke onaangename gebeurtenisse plaasgevind het, sê eers, ken jy dit net so goed soos ons s`n?

[15] Bruno sê: "Beslis nie almal nie, maar wel baie daarvan! Julle weet tog altyd wie daar deur die regbank opgeroep word en waarvoor, en dit kan tog nie beteken dat julle daarom ook verklikkers vir die geregsdienare sou wees nie. Waarom sou ek nie kon verneem het hoe dit met julle gaan in tye van nood nie, as ek julle dan tog deeglik geken het van die beurs. Bewys my maar dat diegene, wat toevallig gehoor het van die ongeluk van sy kennisse, ook daaraan skuldig moet wees. Toon my maar aan in welke wet dit as `n opsetlike misdaad aangetoon word.

[16] Die mopperaars staan nou met die mond vol tande en weet nie wat hulle moet doen nie. Daar skiet niks hulle te binne wat sin maak nie. So is dit ook met hulle woede en gramskap gesteld. Hulle sou graag verder onversoenlik wou bly, maar hulle het by nadere beskouing alle rede daartoe verloor. Daar staan hulle nou voor Bruno sonder enige aanleiding tot toorn en vererg hulle oor hulleself, omdat hulle nou nie meer haat of `n wrok teen hom kan hê nie.

[17] Na `n lang pose tree een van hulle na vore en sê: "Dom is dit dat ons nie meer iets redelik het wat ons teen jou kan inbring nie. Hoe graag sou ons jou `n afranseling wou gegee het, as ons jou ten minste, al was dit maar vir die skyn, een of ander skuld in die skoen sou kon skuif. Maar jy is te slim, sodat ons jou nie meer kan aanraak nie. Bowendien moet ons nog vriende van jou word! Wat wil jy nog verder met ons doen?"

[18] Bruno sê: "Vriende, sien julle nie die groot vergadertafel in die saal nie, met almal wat daar met mekaar `n groot beraadslaging hou oor die gehele oneindigheid?"

[19] Die spreker sê: "Ons sien geen saal en geen vergadertafel nie! Ons sien maar net hierdie egte kroeg, wat vol duisternis is, en ons sien jou. Of daar êrens `n uitgang is, weet ons nie. Wat wil jy egter met jou onsinnige vraag bereik?"

[20] Bruno sê: "Ek wil niks anders daarmee doen as om julle na ons Heer en Heiland Jesus te bring nie, sodat Hy julle kan suiwer en daarna vir ewig werklik gelukkig maak; enkel en alleen om hierdie rede was ek deur Jesus na julle gestuur. Volg my goedskiks en gewillig daarheen waar ek julle sal voorgaan. Op die regte tydstip en plek sal die ware lig aan julle gegee word."

[21] Die spreker sê: "Jy loop wel ietwat hard van stapel, want ten eerste het jy ons vertroue nog lank nie in die mate, dat ons jou nou dadelik blindelings sal volg nie, asof jy lankal `n betroubare vriend van ons was, en ten tweede is ons nuwe-katolieke, wat goed weet wat ons van die Jood Jesus moet dink. Ons is nie so dom soos sommiges, wat selfs `n God van Hom gemaak het, soos eens die Grieke van hulle Hercules en van nog ander helde uit die duistere oertyd nie. Daarom moet jy vir ons welsyn iets verstandiger bedink, as jy regtig van plan is om ons aan `n leiband saam te sleep."

[22] Bruno sê: "Vriende, die Rooms-Katolieke geloof is weliswaar in baie opsigte dom en oppervlakkig, maar die nuwe-katolisisme is nog honderd keer dommer. Ontken dit nie die lewe van die siel na die dood van die liggaam nie? En tog lewe julle nou verder na die dood van julle liggame! Hierdie situasie bewys immers oorvloedig wie se geesteskind die nuwe-katolisisme is. Verder ontken hulle nie net die baie duidelike Godheid van Christus nie, maar volgens Straus en Hegel sonder meer elke Godheid. Wie kan egter, veral hier in die ewige geesteswêreld, so `n leer aanhang, en wat betref die voortlewe van die siel, so `n enorme verkeerde gevolgtrekking getrek het. So `n leer sal egter, wat al haar beginsels betref, nie geloofwaardiger wees as op die punt van haar snode aanvaarding van die sterflikheid van die menslike siel nie. As die hoofleerstelling in `n leer egter totaal verkeerd is, dan kan die ander afgeleide stellinge, wat daarvan afgelei is, onmoontlik anders as net so verkeerd wees nie! Gooi daarom julle hele nuwe-katolieke leer saam met die vodde uit en volg my waar ek julle wil heen bring. Ek staan daarvoor in, dat dit binnekort met julle sal beter gaan.

[23] Die spreker sê: "Vriend, jy is `n verduiwelse skrander kêrel! Mens moet jou gelyk gee, of jy nou wil of nie. Dit spyt my opreg dat ons jou eers so hard en beledigend tegemoet getree het, maar ek hoop dat jy ons kant vergewe het. Bedink dan nou goed hoe in Wenen iedereen, paap en amptenaar, daarop uit was om die arme mensdom in die diepste geestelike duisternis te laat versink en daar aan die slaap te sus. Onder sulke geesdodende omstandig­hede was dit tog onmoontlik om jou kennis op `n hoër geestelike pyl te bring. Soos ons opgevoed was, so is ons nog steeds, naamlik blind, dood en stom van siel en gees. Wees daarom geduldig met ons en lei ons dan in God se naam êrens heen, waar ons meer lig kan kry as nou!"

[24] Bruno sê: "Dit is heeltemal in orde. Dat ek met `n baie geduldige hart na julle toe gekom het, hoef ek julle hopelik nie meer te bewys nie. Ek het julle alles vergewe en is nog altyd julle vriend in alle waarheid. Daarom glo ek dat daar tussen ons geen belemmering sal wees om die enigste weg in te slaan, waarop dit moontlik is om in hierdie wêreld vir ewig in `n lewensituasie te beland, waarin dit, volgens die behoefte van siel en gees, so salig moontlik kan word. Skep dus moed, toon `n sterk wil en volg my! Verwag die res dan van Hom, wat as enigste kan help en wat julle sekerlik ook sal help! Dit is nie verniet dat Hy my na julle toe gestuur het nie. Hoeveel julle ookal is, kom saam met my, en so sal julle gehelp word!"

[25] Hulle wat voor staan sê: "Ons, wat mekaar van die beurs se tyd af ken, is ongeveer twintig man, maar agter ons staan `n enorme en ontelbare menigte van die doodgewone volk. Of hulle jou ook sal volg, is `n ander vraag! Dit is moontlik, maar nie baie waarskynlik nie, want hulle bevind hulle in diep duisternis! Probeer dit! Vir ons is dit om`t ewe of hulle saamgaan al dan nie!"

[26] Die baie mense op die agtergrond sê: "So erg dom soos wat die here daar vooraan dink, is ons nie. Daarom sal ons ook so vry wees om julle te begelei, soos `n volslae duisendkoppige geselskap, want Hy, wat julle wil help, sal ons sekerlik nie die deur wys nie! Dus op goeie geluk ter ere van God dan maar op die weg!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205