Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 145

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Intrede in die hemelse huis. Ontmoeting met ou bekendes. Die blinde soeke van die graaf na die Heer. Eindelik gevind!

145 Op dieselfde oomblik gaan die deur wyd oop. `n Onbeskryflike prag straal die binnetredendes vanuit die eerste saal tegemoet en `n enorme menigte, gehul in geplooide gewade soos van die fynste byssus (linne), begroet die binnekomelinge hartlik. Aan die hoof staan die generaal en naas hom die monnik Thomas en Dismas.

[2] Toe die graaf die generaal sien en herken, vlieg hy sy ou vriend baie verheugd om die hals, soen hom en sê vol vuur: "Wees duisend keer gegroet in `n besliste beter lewe, my beste, goeie ou vriend en broer. O, hoe gelukkig is ek om jou terug te gekry het! Jy is seker al oorgelukkig en God die Heer sal my ook nie ongelukkig laat nie. Ek het alles verwag, behalwe om jou hier te kry. Hoe het dit met jou gegaan direk na jy hier aangeland het, en wat doen jy eintlik presies hier?"

[3] Die generaal beantwoord die groet en sê daarop: "My beste vriend, van iets doen is hier heeltemal geen sprake nie, maar net om dit te geniet, wat die grenslose goedheid en liefde van die Heer Jesus ons in die grootste oorvloed skenk. Wanneer die genot van die saligheid nie verbonde sou wees met `n wonderbaarlike verskeidenheid nie, sou mens werklik met Job moet uitroep: "O Vader, beste Vader, hou tog op om so te seën!" Ja, vriend, hier leer `n mens eers regtig die Heer ken! Maar ek hoef jou verder niks te vertel nie, want die verdere verloop sal aan jou alles duidelik maak. Wil jy iets begryp van die wysheid, almag en liefde van die Heer, kyk dan alleen na die prag van hierdie saal en jy sal enigsins `n idee kry van die Heer, die enige Heer van hemel en aarde."

[4] Die graaf sê: "Wat weet jy van Hom? Het jy miskien al die geluk gehad om Hom, die Allerheiligste, te sien? Was Hy al hier gewees of waarvandaan sal Hy kom? Hoe sal ek Hom dadelik herken? Weet jy, ek hou so ontsettend baie van Hom, dat sonder hom, al hierdie prag vir my sal voorkom soos `n uitgestorwe huis. Wees daarom so goed om my dadelik op Hom attent te maak! O, God, wat se aanblik sal dit wees, as ek my Skepper kan aanskou!"

[5] Die generaal glimlag fyntjies by die naarstige vrae van die graaf en sê: "Maar vriend, jy kom vir my hier voor soos iemand, wat deur die bome nie die bos kan sien nie! Sê my tog net, ongeveer hoe jy dan Jesus, die Heer voorstel? Daarna sal ek jou iets sê, wat jou sal verras."

[6] Die graaf sê: "Wel nou, ek stel my Jesus Christus as God die Heer in `n onbeskryflike glorie voor, omgewe deur Sy apostels en tallose engelekore. Daar staan immers in die Skrif, dat Hy weer sal kom op swewende ligwolke van die hemele, waaruit sekerlik triljoene bliksemstrale die oneindigheid in sal skiet! So stel ek Christus, die Heer vir my voor. Sê my nou wat jy my beloof het."

[7] Die generaal sê: "Broer, jy het `n totale verkeerde voorstelling van Christus, die Heer. Soos gesê, jy sien deur die bome nie die bos raak nie. Ons almal het hier duidelik gehoor, hoe ons allergrootste vriend jou die herkenningstekens gegee het en jou ook beloof het, dat die Heer tegelyk met julle by die huis sal aankom. Wel, kyk nou maar uit na iemand wat presies soos Hy lyk. Vind jy so iemand, beskou Hom dan as die Heer. Want ek sê jou, die Heer, is hier netso eenvoudig en sonder praal soos wat Hy op aarde was. Van een of ander praal is by Hom geen spoor te vind nie."

[8] Die graaf sê: "Juis, juis, presies so het hierdie hoogs beminlike vriend dit vir ons buite gesê, maar ek sal heelwat tyd nodig hê voordat ek klaar sal wees met die één vir één kykery van die talryke aanwesiges. Die saal is enorm groot en skerp verlig, die aanwesiges stel hulle, soos op kommando, op in gelid. So sal ek met die soekery vroeër klaar kry as wat ek aanvanklik gedink het! Daar in die eerste ry vind ek niemand wat soos Hy lyk nie. Ook verder op kan ek niemand vind nie. Ek kan hier weliswaar diegene wat verder op staan ewegoed waarneem, as diegene wat naby staan, maar ons liewe, goeie vriend skyn geen tweelingbroer daaronder te hê nie. Daar heeltemal agteraan ontdek ek nog `n groep, wat ek ietwat nader wil bekyk, as dit toegestaan sou wees!"

[9] Die generaal sê: "Gaan gerus jou gang, geen enkele beswaar nie. Want hier heers die volkome vryheid!" Daarop begeef die graaf hom saam met die onbekende vriend na die bogenoemde groep. Wanneer hy egter met sy vriend in hulle nabyheid kom, val die hele geselskap, met groot eerbied bevange, op hulle aangesig en roep: "Heil aan U, heil aan U, heil aan U, o Hoogverhewene!"

[10] Die graaf skrik vir hierdie verandering van houding en sê vir sy begeleier: "Wel, moet jy dit nou sien? Ek wil hulle met jou vergelyk, en nou lê hulle almal op hulle aangesig op die grond en roep tot God weet wie: "Heil aan U!". Sou dit op een van ons betrekking hê, of het Jesus al sigbaar hier aangekom?" Die vreemdeling sê: "Wag nog `n bietjie, die groep sal hulle spoedig weer ophef en dan kan jy weer met jou ondersoek verder gaan."

[11] Op `n geheime wenk van die meester verhef die hele groep hulle weer. Die graaf ontdek dat hulle uit suiwer vroulike persone bestaan en sê daarop: "Beste vriend, na my wete was ons Heiland Jesus op aarde `n volmaakte man en Hy sal in sy ewige Godsryk seker geen vrou geword het nie! En daarom dink ek dat hier, wat my doel betref, nie veel te ontdek is nie. Maar nou sal ek graag van hulle wil hoor, waarom hulle netnou "Heil aan U" geroep het." Die begeleier sê: "Gaan daarheen en vra dit aan hulle!"

[12] Die graaf nader die groep baie beskeie, maar hulle roep hom toe: "Terug, terug! Met jou het ons niks te doen nie, want jy is `n sondaar in God se huis!"

[13] Die graaf tree terug, maar sê nogtans vir die groep, wat hulleself nog nie lank in die huis bevind nie: "Nou, pas maar op, dat ons julle, met julle sogenaamde pouslike heiligheid, nie `n toontjie laer laat sing nie! O, julle kieskeurige meisies, ek glo dat hierdie vriend van my en ek sekerlik so heilig sal wees soos julle! Kom, beste vriend, laat ons verder gaan, want met hierdie skepsele kan ons niks mee uitvoer nie! Hulle egte Jesuïetagtige, skynheilige hoogmoed is vir my onuitstaanbaar!"

[14] Die begeleier sê: "Ag vriend, dit moet jy nie so opneem nie. Hier moet alles met die grootste geduld verdra word. Hulle is nog nie heeltemal in goeie orde nie, maar hulle is nie ver van hulle doel af nie!"

[15] Die graaf sê: "Baie goed, maar om ons as misdadigers tereg te wys is `n bietjie vreemd. Maar in Godsnaam, dit is so. Het ek tog maar my doel bereik. Dit is vir my onverklaarbaar, dat ek hier byna vir niks anders as maar net vir Jesus die Heer belangstelling het. Al hierdie werklik hemelse skoonhede is vir my soos beelde sonder siel, solank Die Een nog nie daar is nie! Hier, waar mens op die punt staan om as gees die volmaakte Gees van God te kan sien, word die bestaan vir iemand onverdraaglik wanneer mens Hom nie te siene kry nie, wat as enige alles in alles is. As jy, beste vriend, weet waar Hy Hom bevind, wys Hom dan vir my aan, sodat ek Hom darem ten minste van veraf mag sien!"

[16] Die begeleier sê: "My beste vriend en broer, dit sal ietwat moeilik wees om Jesus in die verte aan te wys, want wie Jesus nie eers van naby kan sien nie, kan Hom in die verte ook nie opmerk nie. Jy moet slegs wens om Jesus in jou nabyheid te sien, dan sal jou wens ook in vervulling gaan."

[17] Die graaf sê: "Agtenswaardige vriend, dit sal veel te wense wees, as ek Sy heilige nabyheid maar sou kon verdra. Selfs die hoogste engele sou nie in staat wees om Sy nabyheid te verdra nie; hoe sou ek dit kon doen?" Die begeleier sê: "Vriend, wanneer Jesus Christus die Heer presies so voor jou staan en net so met jou sou spreek soos Ek nou, sê my eers, sou jy dan ook nog so `n heilige vrees vir Hom hê?" Die graaf sê: "Wel ek dink, dat dit dan wel makliker vir my sou wees. Dit sal vir my altyd nog ietwat moeilik wees, omdat ek goed sal moet indink wie Hy is en wie ek is: Hy het oneindig alles, en ek het volmaak niks. Tog sou dit daarby vir my ligter wees op my gemoed as wanneer Hy met vertoon van sy hemelse gesag sou kom!"

[18] Die begeleier sê: "Goed, wat sou jy dan doen, as Ekself Christus sou wees en My om bepaalde redes nou eers aan jou bekendmaak? Wat se gesig sou jy dan trek?"

[19] Die graaf sê: "Luister eers vriend, dit beteken dat `n arme drommel soos ek tog te hard op die proef gestel is! Werklik, hoë vriend, as jy ten slotte Hy self sou wees, dan sou ek tog seker vir die hele ewigheid sprakeloos wees! Maar sê dit my liewer duidelik, sodat ek van louter eerbied, liefde en ontsteltenis dadelik moet vergaan!"

[20] Die begeleier sê: "Ja vriend, Ek Self is Hy, en as jy dit moeilik kan glo, vra dan hier, hulle sal jou sê! Jou liefde het My so na jou toe getrek!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205