Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 89

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die aarde en haar gruwels. `n Sinnebeeldige verskyning

89 Helena spoed haar skielik na die bekende venster, kyk na buite, en nadat sy `n rukkie gekyk het, slaan sy haar hande saam. Sy hou dit nie lank uit nie, omdat die skouspel haar sterk aangryp. Sy kom haastig na my toe en sê: "Maar my Heer en my God, my Jesus, og, dit is tog ontsettend!"

[2] Ek sê: "Wel, My geliefde Helena, wat het jy dan so ontsettend gesien? Het jy miskien die duiwel gesien, of iets wat nog verskrikliker is? Bedaar en vertel ons wat jy alles gesien het!"

[3] Helena herstel en sê: "O, my soete Heer Jesus, ek glo dat in vergeleke by so iets verskriklik, die duiwel maar `n mak dier is. Voordat ek by die venster weg is, het ek die weersinwekkende en gruwelike aarde gesien, maar so, asof ek van `n drywende wolkie na benede kyk. En merkwaardig, die hele Oostenryk en Hongarye met sy buurlande het benede my uitgestrek gelê, soos `n reusagtige landkaart waarop alle voorwerpe van groot tot klein te sien was. Maar, o, verskriklik, wat `n ontsettende aanblik! Die stede is vol vuur en vol van vuil en afskuwelik uitsiende kruipende gediertes. Riviere, mere en die see, is vol bloed! Angsaanjaende leërs staan teenoor mekaar, en die mense sien niks anders as moord, verraad, en nog eens moord nie! Die mense verskeur mekaar, erger as wilde diere. Aan die kant van die keiser en die Russe sien ek hier en daar verraad en moord. Onder die Hongaarse leër, wat verskriklik sterk is, sien ek ook `n groot aantal Russe en Pole en bowendien ook mense uit die hele Europa! Almal roep egter: "Dood en verderf aan alle despote! Geen genade of medelye meer nie! Vervloek diegene wat nog aan `n vreedsame oplossing sou dink!" Die arme keisergesindes kan, ondanks die grootste inspanning, niks uitrig nie, want hulle staan alreeds en veg met tien teen honderd en kan so geen voordeel behaal nie! O Heer, maak tog `n einde aan hierdie moordpartye en laat die swakkes nie ten gronde gaan nie! Blaas in die harte van die Hongare `n gees van versoening en in die van die Oostenrykers nie minder nie, waar dit nodig is, want werklik, ek het medelye met my, in die noute gedrewe, landgenote!"

[4] Ek spreek: "Liefste Helena, wat jy gesien het is reg en waar! `n Absoluut slegte gees het die harte van die mense in besit geneem: dit is die gees van die Antichris. En dit is hy wat so tweedrag saai onder die mense, dat hulle so raas en tier, asof hulle almal tiers, hiënas en drake geword het. Maar daar sal spoedig `n einde aan hulle doen en late gemaak word, `n einde soos wat die aarde nog nooit gesien het nie!

[5] Hier voor ons op die tafel sal jy dadelik `n weegskaal sien, wat soos `n plant uit die tafel omhoog sal groei. In dié skaal sal jy die maat van die menslike gruwels op aarde aanskou en daaruit kan uitmaak in watter tyd die aarde haar nou bevind! Kyk, hier kom hy reeds tevoorskyn. Bekyk hom en beskryf aan My hoe hy daar uitsien en wat jy daarin sien!

[6] Helena bekyk verbaas die wonderlike, fabelagtige gevormde skaal, wat op die tafel voor haar opdoem en hom nog steeds meer ontvou. Toe die skaal hom na enkele oomblikke volkome ontvou het, roep Helena: "Maar Heer, ek smeek U terwille van U heilige naam! Wat is dit nou vir `n sonderlinge verskyning? In die begin lyk dit soos `n baie natuurlike plant, net soos `n waterlelie op aarde. Toe groei daar vanuit die middel van haar langwerpige blare `n ronde, sterk stingel, waarop `n knop aan die punt sigbaar word. Die blare verdor spoedig en die knop spring oop en vorm, in plaas van die verwagte blom, die onmiskenbare pouslike driekroon, die tiara, maar omgekeerd, dit wil sê, met die kruis, wat op die goue appel staan, na benede en met die eintlike onderste hoofband na bo. Hierdie tiara staan nou voor my soos `n regte drinkbeker, en merkwaardig genoeg, op `n driepoot, wat homself uit die stingel gevorm het! Hierdie eienaardige beker is van binne so swart soos die nag. En daar, waar kosbare edelstene aan die buitekant sit, vloei inwendig bloed en nogeens bloed, deurspek met allerlei afskuwelike kruipende gediertes. Die koppe van die wurms sien daaruit soos gloeiende erts en hulle lywe is soos die van drake. Hierdie gediertes drink gulsig die bloed, sodat die beker, ondanks die oorvloedige toevoer, nooit vol raak en oorloop nie, sodat almal kan sien wat `n afskuwelike inhoud hierdie beker het! O, hoe gulsig slurp hierdie ongediertes tog die bloed op! En kyk, tussen die wurms sien ek nou `n dier wat baie groter is as die ander. Die dier het sewe koppe en op elke kop tien punte, soos die van `n swaard, en op elke punt staan `n gloeiende kroon. As hy ondertoe duik, skuim die bloed en dit damp aan die oppervlakte. Die toevloei word nou sterker en sterker, maar nog wil die beker nie vol word nie. Die ongediertes verorber en verteer enorme hoeveelhede, en wat hulle nie kan verteer nie, los op in dampe en rook! O Heer, bind die ongediertes se bekke dig toe en neem die krone van die punte van daardie dier weg, sodat die beker tog kan vol word! O, hoe afskuwelik is dit om dit te aanskou!"

[7] Ek spreek: "Wel, My liefste Helena, kan jy so `n bietjie wys word, as jy die verskyning in die venster vergelyk met dit hier voor jou op die tafel?"

[8] Helena sê: "O Heer, daarvan kan ek baie moeilik iets begryp. Daarom vra ek U, openbaar U aan ons die korrekte betekenis van beide hierdie verskynsels, as dit U heilige wil is!"

[9] Ek spreek: "Liefste Helena, dit sal Ek graag doen! Let veral goed op! Sien, buite voor die venster het jy die groot euwel gesien, en hier sien jy die oorsaak daarvan. Buite, voor die venster, word die naakte werking voor jou sigbaar, wat van A tot Z hier haar diepste oorsaak het.

[10] So sien jy hier op die tafel die bose simbool: `n omvergewerpte tiara (`n soort kroon), haar ryke wat inwendig bloei en spoedig sal doodbloei. Die hiërargie probeer wel om te voorkom dat haar uiterlike aansien bevlek word deur haar innerlike gruwels, maar al haar moeite sal nutteloos wees. Want kyk, daarom het Ek nou haar innerlike waarde, deur die omkeer van die tiara, aan iedereen getoon. Sy kan nou doen wat sy wil, sy sal haar kroon nie meer kan regop tel nie, en sal haarself vernietig en verteer! Begryp jy hierdie saak nou ietwat beter?"

[11] Helena sê: "O, my Heer en my God, ek begryp nou wel iets, maar daar is nog nie sprake van volkome begrip nie, want wat die bloed en die afskuwelike wurms in die bloed beteken, sal niemand volkome begryp nie, behalwe natuurlik U. Wees daarom so goed en sê vir my iets daaroor!"

[12] Ek spreek: "Wel, luister nou maar. Die bloed wat na binne vloei, presies vanuit die plekke waar die edelstene aan die buitekant aangebring is – wat al die ryke en regerings van die aarde moet voorstel – beteken die tirannieke heerssug. Na buite stel dit bedrieglik die volste vryheid en gelyke regte vir alle stande voor, maar is in wese egter wraak en bloeddorstigheid, waardeur elkeen, wat nie ten volle rekening hou met die voordeel van die alleenheersende tiran, oor die kole gejaag word! Dink maar terug aan die inkwisisie (ondersoek) en van daar af verder tot by die teenswoordige tyd en jy sal maklik insien hoe die innerlike hiërargie niks anders as haat, woede, teregstellings, vervolging op alle gebiede, moord en doodslag gehuisves het nie, en nog steeds welig tier soos die pes; ook al is dit nie meer so sigbaar in die daad nie, omdat die kragte daarvoor verlam is, dan tog egter meer erger in die verborge wil en vurige wense!

[13] Die kruipende gediertes, wat die bloed ywerig verorber, en daardeur soveel moontlik onttrek van die oë van die blinde volkere, is die weersinwekkende, selfsugtige kruipers en oëdienaars in elke menslike ampsvorm of diensbetrekking. Hierdie wesens is in elke menslike samelewing die mees verwerplikste. Hulle is die ergste vyande van die mens en hou van niemand nie, slegs van hulleself. Daardeur kom dit dan ook dat hulle diegene, aan wie hulle hulle voorhou om alles te doen, die eerste en smadelik te verraai, sodra een of ander voordeel te behaal is. Want wie eers `n verraaier is, bly `n verraaier, as dit vir hom maar net wins inbring. Kyk, so staan dit nou ook met die Roomse. Hulle hou van veinsaards, huigelaars, verraaiers, kwaadsprekers, oëdienaars, verklikkers, spioene en almal wat handig kan lieg en daarby harteloos en gewetenloos allerlei vroom bedrog uitdink. Nou egter sal dit juis haar ergste regters word en haar mees ontroue verraaiers wees!

[14] Wel My liefste, begryp jy ietwat beter wat die bloed en die gediertes beteken? Ja, jy begryp dit; maar jy het nog daardie sewekoppige dier voor jou en wat dit beteken, sal jou deur `n nuwe verskyning duidelik gemaak word.

[15] Kyk nou daarheen waar die eienaardige beker staan. Let egter goed op alles wat hom sal voordoen en beskryf dit vir hierdie hele vergadering. Maar jy moet veral baie noukeurig oplet."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205