Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Robert se begrippe oor die geloof en die korrekte verering van God.

34 Robert sê: "Vriend, jy bring my werklik van my wysie af! Luister eers, as dit wat ek as geloof beskou, geen geloof genoem kan word nie, dan kan jy my hoof dadelik van my romp afslaan. Ek sal nogtans nie in staat wees om te sê wat mens dan eintlik onder werklike geloof moet verstaan nie.

[2] Die suiwere kennis kan tog nie geloof wees nie! Die aanskoue, die verstaan en selfs die betasting tog nog minder. Buiten die kennis en suiwer waarneming deur ons sintuie, ken ek verder niks wat die mens in sy onderskeidings- en beoordelingsvermoë sou kon opneem nie. En as die weet, net soos die sien, hoor, proe en voel, geloof beteken, wat is nou eintlik dit wat ek tot nou toe geloof genoem het?

[3] Geloof beteken vir my om iets as waar aan te neem, wat op sy beurt ook waar kan wees vir sover dit nie in teenspraak is met die wette van die gesonde verstand, ook al kan die leerstelling nie soos `n wiskundige stelling bewys word nie. Kan jy dit egter wel doen, dan hou die geloof vanselfsprekend op, net soos die hoop, as dogter van die geloof moet eindig, as dit eenmaal in vervulling gegaan het.

[4] Ek kan my onder geloof daarom niks anders voorstel as `n gewillige aanneem van leerstellings en geskiedkundige data, solank dit verstandelik bewys kan word. As dit geen geloof is nie, dan sal ek graag wil weet wat geloof dan wel moet wees.

[5] Jy het wel enkele kere tot jou leerlinge gespreek oor die wonderkrag van die geloof, toe jy iets gesê het oor die verplasing van berge, wat jy waarskynlik geen haar beter begryp as ek nie. Bedoel jy dus slegs die fabelagtige geloof? Dan is my geloof egter beter as dit! Want vir my geloof sou nie eers die kleinste sandkorreltjie, laat staan nog `n berg gewyk het nie!

[6] Ja, luister eers, beste vriend, as ek so `n geloof op aarde sou gehad het, dan sou dit met die goeie Windischgrätz sleg afgeloop het. Hom sou ek wel baie ernstig van sy plek afgestoot het! Ag, om berge enkel deur die geloof te kan verplaas, dit is `n groot en mooi gedagte! Maar helaas slegs `n gedagte!

[7] Die leerstelling van Paulus om alles te beproef en die beste daaruit te behou, was altyd my lyfspreuk. En die groot denkbeeld om aan God gelyk te word, alhoewel nooit so volmaak as wat Hyself is nie, was die grootste dryfveer vir al my inspanning. Maar wat het ek daarmee bereik? My teenswoordige toestand gee self die antwoord vir jou.

[8] En jy skyn ook nog geen son onder jou voete te hê nie. Ek bedoel daarmee: Jou wondergeloof het nóg vir jou, nóg vir my tot nou toe goue berge opgelewer. Maar wie weet wat daar nog sal kom?

[9] As ek byvoorbeeld gewillig aanneem dat jy die seun is van die lewende God, of selfs die hoogste wese self (vooropgestel dat jy van my verlang dat ek dit aanneem) dan glo ek maar net. Want ek kan myself geen bewyse verskaf dat jy dit ook werklik is nie. En daarom glo ek dit, omdat my verstand tenminste geen logiese onmoontlikheid daarin sien nie. En dat, hoofsaaklik deur jou logiese oortuigende uiteensetting, die Godheid, by al Haar almagtige handelinge, `n werklike Godheid kan bly, ook al neem Sy `n sigbare vorm teenoor Haar skepsele aan. Maar as ek tog tasbare bewyse sou kry, dat jy werklik Hy is wat ek nou glo, dan hou die geloof tog op, en in sy plek tree daar dan `n sekere kennis in, op grond van ervaring.

[10] Weliswaar sou jy nou kon sê: "Kyk, alle ware gelowiges buig hulle knieë by die noem van My Naam en aanbid My. En as jy nou sê, dat jy glo dat Ek die Godheid self is, waarom doen jy nie wat alle ware gelowiges doen nie?"

[11] Hierdie teenwerping is ongetwyfeld `n oordenking werd. Maar ek vind dat om toekomende eerbetoon aan die Godheid te betuig, `n soort domheid is, want wat aan die verstand ontbreek, word dan goedgemaak deur `n sekere fanatieke geloofsbelewenis.

[12] Indien jy werklik die Godheid self sou wees, sou jy dit ook so moet sien, anders sou jy `n eersugtige en werklik `n swak Godheid wees, wat eerder uitgelag, as aanbid moet word! Maar ek weet dat jy nooit van sulke swakhede las gehad het nie, of jy nou wel `n God is al dan nie. Daarom lê ek ook nie voor jou op my knieë nie. Ek weet maar al te goed dat `n dergelike gebaar van menslike swakheid jou maar net sou vererg!

[13] Daarom sou ek dit dan nie eers doen, as ek tot die oortuiging sou kom dat jy werklik God is nie. Want ek kan volstrek nie aanneem dat `n alwyse Godheid aanbid sou wil word nie. As mense dit so kruiperig vroom voor my sou moes doen, sou dit selfs vir my, as enigsins gevorderde denker, as sinloos en in hoë mate dom voorkom.

[14] Ek beskou `n gewetensvolle nalewing van God se gebooie as die egte God alleen welgevallige aanbidding. Want dit verlang die ewige orde van die Godheid self, waarsonder geen wese moontlik kan wees nie. Maar die meeste hoort in die ryk van die blinde heidene tuis!

[15] Ek het dikwels jou leer oor die skandelikheid van die lang Joodse lippegebede bewonder en hoog geprys. Terwyl ek die van Paulus afkomstige "bid sonder ophou" moes aansien as die grootste dwaasheid, vooropgestel dat Paulus onder gebed, slegs `n aandagtige lippegemompel bedoel het, wat mens andersins tog nouliks van so `n wyse man kan aanneem nie!

[16] Ek glo derhalwe nou dat jy God is! Of ten minste `n ware seun van God; `n predikaat wat jyself aan alle mense belowe het wat God se gebooie nalewe en Hom daardeur bo alles liefhet. Ek het ook vas besluit om alles te doen wat jy in jou wysheid van my verlang. Maar as jy van my kniebuigings en rosekransagtige gebede verlang, wees dan vooraf verseker dat ek nooit so-iets sal doen nie! En wel, omdat ek daarin alleen `n skending, maar nooit `n verering van jou naam sou kan sien nie, wat vir my bowe alles dierbaar is. Sal jy nou weer so goed wees om vir my te sê, of jy met hierdie verklaring tevrede is of nie?


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205