Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 122

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die binnebring van `n opgewonde menigte gesneuweldes. Die toespraak van die aanvoerder. Sy oproep tot gebed.

122 Almal begewe hulle na die deur en kyk in die groot eerste saal, in die hoop om die Heer aan die hoof van die reeds bekende gaste te sien. Maar dit is nie die geval nie! `n Groot menigte menslike wesens van diverse afkoms dring die saal binne en wens opgewonde om die hoof van die paleis te spreek.

[2] Robert sê vir Dismas: "Broer, dit is vir my `n wanhopige geskiedenis! In stede van die Heer, dring `n verdagte uitsiende gepeupel die huis binne en vra vrypostig na die hoof van die huis, welke eer my helaas te beurt val. Wat wil hulle tog hê? Hier is dalk ook rowers en moordenaars? Waarlik, dit ontbreek ook nog maar aan die hemelryk van God! Kyk tog wat se vurige blik hulle in hulle oë het! Dit sal my nie verbaas as hierdie gepeupel dalk uit die hel ontsnap het nie! Sê tog wat ons met hierdie volkie moet doen! Hierdie kêrels sou in staat wees om selfs hier in die hemelryk ons uit die huis en die hof te verjaag! Kyk net hoe raas en tier hulle! Die hele saal is stampvol en nog sien ek deur die deur, hoe selfs die binneplaas steeds voller word. As dit so aangaan, word ons binnekort platgedruk. Ook die dieragtige stank kan my neus nie meer bepaald behaag nie. Ba! Dit is werklik `n onverwagte, hoogs ellendige vertoning! Wat nou gedaan?"

[3] Dismas sê: "Voorlopig heeltemal niks, want hulle sien nóg vir ons, nóg die deur en kan dus ook nie hier binnedring nie. Origens lyk dit of hulle nou net van die aarde in hierdie wêreld aangekom het, waarskynlik van die slagvelde van Hongarye en Italië, want ek hoor baie duidelik Hongaarse vloeke en ook Italiaanse skelwoorde. Ons moet hulle eers tot bedaring laat kom, waardeur hulle sagmoediger sal word. Eers dan sal ons onsself laat sien, want nou is hulle nog te wraaksugtig en is daar niks met hulle aan te vang nie! Laat ons hulle eers vir `n rukkie aanhoor, sodat ons die gesteldheid van hulle harte kan leer ken!

[4] Kyk, daar vooraan blyk die drie leiers te staan, want soos wat hulle hulleself gedra, gedra die groot menigte hulle ook! Daarom moet ons oplet, ons sal nog baie merkwaardige dinge hoor! Die middelste een draai hom nou om en gebied orde en rustigheid. Hy gaan waarskynlik `n toespraak vir die hele geselskap hou, wat sekerlik van groot betekenis sal wees vir ons. Daarom sal ons met groot aandag luister! Dit word nou stiller en daar kom ook nie meer ongure individue by nie! Let nou daarom op! Hy vra vir aandag en maak sy keel skoon. Luister, hy spreek!"

[5] Die leier van die nuwe aankomelinge: "Dierbare wapenbroers! Op die sogenaamde "veld van eer" vir ons vaderland het ons so ellendig omgekom soos vee op `n slagbank! Wat het ons nou daarmee bereik? Na die hoëre het ons gestreef en diep benede het ons beland! Met doodsveragting het ons soos helde gestry, het nie in die hiernamaals geglo nie en gelag vir die sogenaamde evangelie, nou is ons werklik in die hel, wat beslis geen droom is nie! Ons voel dat een of ander duiwel ons, uit dankbaarheid vir ons heldedade, die hellepaleis laat vind het en ons hierin gedryf het! Nou sit ons hier opmekaar soos harings in `n blik; duisternis rondom soos in `n graf en nêrens een of ander uitweg nie. Die eintlike hoof van die huis is nie te vinde nie; miskien is daar ook nie een nie. Dit is nou ons loon vir al ons aardse moeite en inspanning!

[6] Ag, was dit maar moontlik om ons kamerade op aarde te laat weet welke loon hulle hier te wagte is! Werklik, nie één sal die vervloekte "veld van eer" betree nie! As ons, in die naam van alle duiwels, heeltemal dood sou gewees het, dan sou alles goed gewees het. Maar ons ervaar egter hier nadruklik, dat ons helaas verder in hierdie afskuwelike ellende lewe. Ons ly gebrek aan al die goeie en is daarenteen ruim bedeeld met al die leed wat maar denkbaar is, soos honger en dors en hitte en koue tegelyk. Pyn knaag soos wurms in ons ingewande en geen lig verkwik ons oë nie. O, dit is `n voortreflike loon vir ons lyding en ontberinge wat die "veld van eer" ons so ryklik toebedeel het!

[7] Dit is dus die lot van die trotse here van die aarde; dat hulle ten slotte lewend opgevreet word en dan as vanself bewuste wesens in ewige duisternis kan wanhoop! O, vervloekte lewe van die mens en veral van `n held! Maar wat nou gedaan? Gevloek het ons hopelik genoeg, maar hoe sou dit wees as ons sou bid? Miskien sal `n gebed ons help. Ken iemand van julle een of ander simpel gebed uit sy kop uit?"

[8] Een uit hulle midde sê: "Meneer die kommandant, ek ken die een van Kossuth!" Die kommandant sê: "Esel, dit sal maar mank gaan! Kossuth het daarmee gestrand; wat sal dit ons baat? Ken iemand `n ander een?"

[9] `n Italianer sê: "Signor generaal, ek ken `n mooi gebed vir santa Maria en een vir die santo Gioseppe!"

[10] Die kommandant sê: "Hou jou mond, jou esel van `n Italianer! Sulke domhede gaan ook mank daaraan! Laat iemand anders hom aanmeld, maar dan met iets verstandig! Vervlaks, kan niemand dan die "Onse Vader" bid nie? Een kom na vore en sê: "Meneer die generaal, toe ek nog `n jongetjie was, het ek die "Onse Vader geleer. Dit is `n mooi en wonderlike gebed, maar ek ken dit nie meer heeltemal nie. Wat ek nog ken, sal ek wel bid!"

Die generaal sê: "Nou bid dan maar so, so veel en so goed as wat jy kan!"

[11] Daarop begin die voorbidder: "Bid my agterna en sê: Onse Vader, U is in die hemel…wag eers, hoe gaan dit verder? Aha, ek weet dit weer. Onse Vader, U is in die hemel, U naam word geheilig. U wil geskied in die hemel en op aarde. Wag eers, wat kom dan verder?...neem my nie kwalik nie, meneer die generaal, dat dit met my so sleg gaan. Maar geduld, dit sal weer kom. O ja, ek weet hoe dit verder gaan! Gee ons daagliks brood en…lei ons nie in versoeking!"

[12] `n Ander een sê: "Ho, vergeef ons onse sonde, soos wat ons ons skuldenaars vergewe"…kom daar nog iets voor? Die eerste voorbidder sê: "Wees so goed en bid jy dan die laaste stuk, omdat ek dit nie meer so goed ken nie." Die tweede sê: "Nou goed, verder lui dit dan: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die oerdom kêrels, wat die grootste boosheid is! Amen. Die eerste sê: "Ha, ha, ha, so gaan dit nie aan die einde nie. Dit moet wees; "verlos ons van al die bose, Amen. Maar ek het goed begryp dat jy my bedoel, dat ek die dom kêrel is! Jy is ook self nie beter nie, dat jy self `n dom kêrel is. Nou weet jy dit!"

[13] Die generaal sê: "Geen rusie nie, asseblief. Ons is al ongelukkig genoeg, danksy `n onoorwinlike mag! Waarom sal ons mekaar oor en weer deur beledigings nog ongelukkiger maak? Wat help so `n gebed trouens, waarvan julle ruim nie meer die helfte daarvan kan bid nie? Laat iemand na vore kom wat die gebed fatsoenlik kan bid, anders is dit beter om glad nie te bid nie!"

[14] `n Dame kom na vore en sê: "Meneer die generaal, ek ken die gebed goed, maar om dit in Duits te bid is te moeilik, maar in Frans of Engels kan ek wel vir u van diens wees!

[15] Die generaal sê: "My beste mevrou, bid u maar vir uself in Engels of Chinees, ons verstaan slegs gewone Duits en sal graag ook so bid! Ek vra daarom nogeens: Wie van julle kan die "Onse Vader" goed bid in Duits? Laat hy na vore kom en in goeie Duits voorbid!

[16] `n Dominee kom na vore en sê: "Meneer die generaal, as daar geen beswaar is dat ek Lutheraans is nie, sal ek wel probeer om hier voor te bid!" Die generaal sê: "Vir my maak dit nie saak nie; Lutheraans, Rooms-Katoliek of Turks. Maar die oorgrote meerderheid van die geselskap bestaan uit Rooms-Katolieke en hulle sal daarmee aanstoot neem. Daarom dank ek u voorlopig vir u aanbod, waarvan ek eers gebruik sal maak as daar in die Rooms-Katolieke geselskap werklik geeneen te vinde sou wees, wat in staat is om die gebed goed voor te bid nie! Bly u intussen maar by my!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205