Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 61

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die begrip van die danseresse. Stryd teen onsuiwer natuurgeeste in die mens. Die trap na die volmaaktheid. Die Allerhoogste.

61 Die danseresse sê: "O, wyse vriend, jy is waaragtig ingewy in die diepste wese van die menslike lewe. Ons het jou baie goed begryp. Jy het dit, waaroor ons dikwels `n vae vermoede van gehad het, duidelik voor oë gestel. Hoe kan ons jou ooit genoeg daarvoor bedank?

[2] Hoe dikwels het ons mense op aarde gesien, wie se gees die hoogste moontlike ontwikkeling gehad het. Mense, wat veral op die gebied van die religie, `n reputasie van heiligheid gehad het, en deur elkeen geëer en geprys was. Ja, nog meer: Mense wat deur woord en daad onmiskenbare spore van `n hoër verligting laat blyk het. Sulke mense het soms na ons toe gekom en voorstelle aan ons gemaak oor die mees verfoeilike genietinge. Nee, het ons by onsself gedink, as dit die gevolge is van so `n voortreflike Christelike deug, dan moet ons niks verder daarmee te doen hê nie. Destyds was sulke verskynsels `n onoplosbare raaisel vir ons, nou is dit egter vir ons almal duidelik. Nou weet ons waar al die kwaad vandaan kom. Gee ons nou die wyn van die lewe, dan sal ons hierdie beker van deemoed tot op die laaste druppel in ons opneem!

[3] Robert reik hulle nou die beker, hulle drink daaruit en word met `n groot vreugde vervul daardeur.

[4] Jellinek, net soos Messenhauser en Becker, is hoogs verbaas oor Robert se wysheid en sê na `n rukkie: "Broer, dit is te veel op `n slag! Jy weet dat ek jou altyd as `n wyse man beskou het. Maar dat jy werklik so `n diep wysheid besit het, daarvan het ek nie die minste vermoede gehad nie. Maar onwillekeurig kom dit vir my voor, dat jy nie uit jouself gespreek het nie. Maar dit maak nie saak nie. Daardeur het jy ook `n liggie by my laat opgaan, sodat ek nou die dinge en verskynsels baie anders begin te oordeel as vroeër.

[5] Dit begin ook vir my `n bietjie duideliker word waarom die danseresse vir ons gedans het! Het hulle miskien daardeur ons onreine geeste uit hulle besette woning van ons ware "ek" gelok en het hulle toe vinnig hulle eie woning betrek?"

[6] Robert sê: "Ja, ja, byna het jy die saak lewensgetrou weergegee. Maar tog het jy ietwat oppervlakkig in jouself gekyk. Want, beste broer, hoe kon jy so oor jouself en oor ons almal gedink het?

[7] Ek sê vir jou, by ons is juis die omgekeerde die geval. Ons, en veral julle geeste, bevind hulle gelukkig in hulle korrekte lewenswoning, anders sou julle julleself nie in hierdie woning bevind het nie, maar in `n sodanige een waar geen lig en lewenswarmte kan binnekom nie!

[8] Julle geeste was net te veel deur die natuurgeeste beleër, sodat julle nouliks kon beweeg en nie deur hierdie natuurgeeste heen kon sien nie. Daardeur kon julle julleself voorheen ook nouliks in die vertrek beweeg het en nog minder êrens iets gesien het. Alleen deur buitengewone hulp van bo was die beleëraars van julle gees na buite getrek. En sien, julle gees kon ook dadelik uit homself meer lig ontwikkel en daardeur sy vroeëre, uiters beperkte gesigsveld uitbrei. Toe ontdek julle ook skielik `n oopstaande deur en die tafel met die lewenswyn.

[9] Maar tog het daar soveel natuurgeeste as beleëraars om die egte woning van julle gees gebly, dat julle gees nog nie volkome helder kon sien deur hulle groot aantal nie, maar soos deur `n ligte newel moes kyk. Daar is egter sulke geeste wat die ware gees steeds die hardnekkigste beleër en hom in hulle sfeer wil lok, wat meestal van sinnelike liefde afkomstig is, en hulle het ook in `n sekere opsig die grootste gelykenis met die ware gees van suiwer liefde van God in ons harte. Hulle is die moeilikste om van hierdie lewenswoning weg te kry, omdat hulle, soos geen ander natuurgees nie, maar al te sterk aan die lewe vashou. Hulle grootste angs is om hulle lewe te verloor, wat hulle soveel soet genot bied.

[10] Hierdie hardnekkige natuurgeeste kan slegs deur `n buitengewone aantrekkingskrag van buite af, wat meer word, weggetrek word van die woning van die eintlike gees, by welke geleentheid die ware gees dan sy territorium weer kan uitbrei en daardeur vryer en meer verlig kan word. En kyk, so `n aantrekking was dan ook hier deur hierdie danseresse bewerkstellig. En julle ware "ek" het baie vryer en helderder daardeur geword. Daarom het my verhewe vriend, ook vroeër vir jou, broer Jellinek, toe jy die dans hier eienaardig gevind het, gesê dat jy hier nie soseer op die middel nie, maar wel op die goeie doel moet let. Nou het jy die duidelike verligte, goeie doel voor jou! En daarom meen ek altans, dat jy niks meer teen die middel sal inbring nie!

[11] Dat hierdie danseresse egter nog geen suiwer engele is nie, omdat hulle vir julle `n goeie doel bereik het, hoef ek julle nouliks van naderby toe te lig. Maar ons sal alles doen, sodat hulle dit kan word, wat hulle en ook ons nog nie is nie!

[12] Ek is slegs één tree verder op die leer as julle, en dit is ook my enigste voordeel. Maar die leer na ons ewige woning en bestemming is `n oneindige leer. En daarom sal dit ook maklik kan gebeur, dat ons huidige verskille so weggewerk sal word, dat niemand van ons iets op die ander sal voor hê nie. Met uitsondering van die vriend en broer naas jou, broer Jellinek, wat ons so ver verskriklik vooruit is, dat ons nooit in staat sal wees om hom in te haal nie. Waarom? Dit sal vir julle by `n nadere kennismaking wel duidelik gemaak word.

[13] Maar nou het ons nog `n ander, baie belangrike taak te doen wat in die eerste plek in orde gebring moet word, aangesien ons andersins nie vry in die huis sal kan beweeg nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205