Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 164

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Konings en dienaars

164 Vanaf die huis sien Markus en albei sy seuns ook dat die skepe daar aankom. Hulle haas hulle soos goeie loodse na die oewer, en kyk of die mense op die skepe nie dalk iets nodig het nie.

[2] Cyrenius en alles wat Romein en Griek heet, haas hulle eweneens na die oewer om te sien wat die drie skepe sal inbring. Hulle het egter nog ver op see gelê en was nog ongeveer `n uur van die oewer af verwyder, en geeneen van die kykers kon sien wat hulleself alles op die drie vry groot skepe bevind nie.

[3] Cyrenius vra dit aan My en Ek sê: "Hulle wat ons vanmore vroeg al verwag het! Hulle het te kampe gehad met teenwinde en `n hoë see. Onderweg moes hulle `n hawe aan die oorkant soek om die wind te laat uitwoed en dit is die rede vir hul vertraging. Dit is nou al `n volle uur verby die middel van die dag, en hulle sal nog `n volle uur nodig hê om hier te kom, omdat hulle nog altyd teen `n redelike teenwind moet roei. Maar ons moet hulle nou ietwat help, dan sal hul rit baie korter duur daardeur."

[4] Cyrenius sê: "Heer! Wil U hulle nie, netsoos gister by Ouran, vir Rafael tegemoet stuur nie?"

[5] Ek sê: "Dit is hier gladnie nodig nie. Want die gevaar wat Ouran gister bedreig het, bedreig hulle nie! Met hierdie drie middelmatige vaartuie sal Markus met albei sy seuns maklik regkom, en binne `n halfuurtjie is hulle hier!"

[6] Cyrenius sê: "Maar Heer, wil U vandag dan glad geen wonder doen nie?"

[7] Ek sê: "Het jy dan nie in Moses gelees nie: 'En op die sewende dag rus die skeppende gees van God, en die sewende dag word daarom die sabbat'?! As Ek dan ook nou rus, handel Ek tog korrek, want daarvóór het Ek eers ses volle dae lank baie werk verrig! Bowendien is daar nou tog ook voldoende dienare om My heen, wat nou in My Naam, en in die totale krag daarvan besig is en kan wees!"

[8] Cyrenius sê: "Heer, dit beteken alweer iets besonders; wat dit egter beteken, ontgaan my volkome!"

[9] Ek sê: "Wel, vra dit dan vir iemand, dan sal dit jou wel uitgelê word! Maar Ek neem nou `n kort pouse, nie terwille van My nie, maar terwille van julle, om julle die geleentheid te gee om tot handeling oor te gaan, en op die wyse werk Ek ook in julle almal. - Verstaan jy dit dan nie?"

[10] Cyrenius sê: "Ja, ja, nou verstaan ek dit! Ek kan my nou ook voorstel waarom!

[11] Ek sê: "Dit is dan ook nie so baie moeilik nie, want Ek het dit vir julle almal vanmore tog baie duidelik uitgelê! Voor die middagete sal Ek eiehandig niks doen nie, maar na het ete sal daar wel geleentheid wees om iets te kan doen. Maar as Ek praat, doen Ek voor die middagete tog ook iets.

[12] Nou moet ons vir Markus sê dat hy albei sy seuns na die skepe moet stuur, want die verwagte gaste sal baie uitgeput en honger en dors hier aankom, so ook hul dienaars en die arme, vermoeide skippers."

[13] Daarop wink Ek vir Markus, en hy verstaan My wink, laat albei die seuns met volle krag die see kies, en self gaan hy so vinnig moontlik na die huis en sit elkeen behoorlik aan die werk.

[14] Ook in die tente van Ouran word mense bedrywig, want Mathael en sy vier metgeselle, sy jong vrou Helena, en koning Ouran sien die skepe vanuit die tente. Hulle het die tente `n uur tevore betrek, saam met die familie van Herme, die bekende boodskapper uit Caesarea Philippi, om hulle daar te verklee en om vir Mathael koninklike kleding aan te trek, sodat dit vir die aankomelinge sigbaar sou wees wie hy was.

[15] Ouran haas hom na My toe en vra My baie nederig: "Heer, wat sal die skepe tog bring? Is dit dalk die verwagte baie hoë gaste?"

[16] Ek sê: "Vriend, dit was `n baie onnodige vraag! Maar in ons midde is geen goed hoë en geen goed lae gaste nie, maar van a tot z maar net broers. As Ek My deur julle 'vriend en broer' kan laat noem, waarom sou daar dan by julle mense 'hoë' en 'lae' wees? Ek sê vir jou: Die Almagtige onder julle is die enigste ware Heer, maar julle almal is onder mekaar broers en knegte en dienaars van één Heer!

[17] Of dink jy dat konings hoër deur My aangeslaan word as hul minste dienaars, net omdat hulle magtige konings is? O, glad nie! Slegs die hart is bepalend. In sy hart moet die koning weet waarom hy koning is, en die dienaar waarom hy `n dienaar is, anders staan sowel koning as kneg op dieselfde, lae trap.

[18] Hou dus rekening daarmee, vriend Ouran, dat daar voor My geen hoë en geen lae gaste bestaan nie, maar almal kinders, broers en susters!"

[19] Ouran het na hierdie teregwysing niks meer te vra nie, buig diep en vra nie verder nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205