Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 62

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die gesonde verstand van Risa

62 Toe word dit stil aan die tafel. Maar nou begin die dertig jong fariseërs en leviete onder mekaar rusie maak, omdat hulle deur hul woordvoerder, Hebram, in `n sekere sin ook die swye opgelê is. Veral `n sekere Risa praat altyd maar deur oor sy ouers wat baie landgoedere besit, wat hy na hul dood as enigste erfgenaam sou erf. Hy het hom buitengewoon vererg toe Hebram hom daarop wys dat hy nou liewer behoort te gaan nadink oor die wyse woorde van Mathael en veral dié van die Verlosser uit Nasaret, en daarby sy mond moet dig hou, in plaas daarvan om voortdurend te bly klets oor sy waardelose erfenis.

[2] Maar Risa sê op `n growwe manier aan Hebram: "Arme rondlopers word uiteindelik altyd vroom en soek dit in allerlei wyshede, omdat hulle weet dat hulle van die wêreld nie baie kan verwag nie. En die grotes en rykes word af en toe ook vroom en wys om die woedende, arme duiwels makliker weer tot sagmoedigheid en geduld terug te kan bring, sodat hulle hulle voortaan hul baie drukkende armoede laat welgeval!

[3] Die ryke gaan na die sinagoge en bid ten aanskoue van die armes, om hulle te laat glo hoe vroom `n mens moet wees om so deur God geseën te word. Die arme bid eweneens baie. Ten eerste om ook deur God geseën te word en ten tweede dat die ryke hom sal sien en hom dan miskien tog `n aalmoes sal gee. Watter verskil is daar dan tussen die twee? Daar is glad geen verskil nie! Want die ryke strooi die arme sand in die oë en die arme doen soveel moontlik dieselfde by die ryke, om iets van hom te kry. Maar vir my bedrieg niemand nie, ook geen wonderdoener nie. Want die wonderdoeners weet baie goed vir wie en waarvoor hulle hul skynwonders doen! As hulle baie groot meesters in hul geheime kunste is, weet hulle dikwels om groot en klein beet te kry, en word letterlik as hoëre wesens vereer en daardeur ryk en magtig!

[4] Kortliks, vir blindes kan jy maklik `n skilder wees. Jy skilder `n beer vir hulle en sê: 'Kyk, dit is `n aantreklike jong vrou!', en hulle glo dit. Maar as iemand vir my `n wonder sou doen, sal die skerpsiende Risa hom nie laat flous nie en die man sou ook geen aalmoes verdien en kry nie!

[5] Alles in die wêreld is bedrog. Wie die beste kan bedrieg, kom die verste! Maar wie minder goed kan bedrieg, sal op die oneffe baan van die geluk nie sulke groot spronge maak nie!

[6] Slegs hy is gelukkig wat van meet af aan in die ryke besit is van allerlei goedere en daarby baie insig het, sodat `n mens hom nie `n beer vir `n jong meisie kan voorhou nie! Dit is my gesonde uitkyk op die wêreld en al haar omstandighede en dit is nie so newelig soos dié van `n arme, slim drommel nie! So was dit altyd gewees en so sal dit ook altyd bly!

[7] Maar moenie by my aankom met die ewige lewe na die dood nie! Want elke graf wat ons sien beteken dieselfde as elke boom wat van ouderdom omgeval het in `n bos. Wat vanuit die aarde kom, word weer aarde en verder is daar niks nie - behalwe die vrome inbeelding van die arme drommels, wat natuurlik graag deur die rykes ondersteun word!"

[8] Hebram is, soos al vroeër gesê, baie verontrus oor sulke opmerkings en sê vir Risa: "Vir jou is Moses en alle groot en klein profete dus niks meer as egte of gefantaseerde bedrieërs van die blinde mensdom nie, en die Verlosser uit Nasaret wat hier aanwesig is vind jy geen haar beter nie?!"

[9] Risa sê:"Ek sien hulle nie as opsetlike bedrieërs nie, maar sekerlik as bedrieërs van die beter soort. Want almal kon die blinde mense baie goed, miskien dan nie bere nie, maar dan tog ape vir mense voorhou, en knolle vir sitroene verkoop!

[10] Van die Verlosser uit Nasaret dink ek dat hy heel goed onderrig is in die geheime kragte. Hy kan dit nou gebruik en ons, as oningewydes, staan daarby soos `n bees voor `n nuwe hek en weet nie waaroor dit alles gaan nie!

[11] Maar Sy leer is goed. Want as alle mense so `n leer sou hê en dit sou navolg, sou dit uiteindelik met alle mense goed moet gaan! Wie sal egter die leer nou aan alle mense op die uitgestrekte wêreld gaan verkondig? En as daar `n moontlikheid voor sou wees, dan vra ek: Op hoeveel onoorkomelike moeilikhede en hindernisse sou so `n werk nie stuit nie?!

[12] Want die mense is in niks so star as juis in hul verskillende religieë en godsdienste nie!

[13] Die gewone mens is in alles meer dier as mens. Dit ontbreek hom aan enige hoëre intelligensie en hy sal hom daarom nie laat verhef bo sy duisendjarige lewensopvatting nie, ondanks alle duidelik sigbare onjuistheid en soete dwaasheid. Die meer intelligente mens sal egter dink: 'Die lewe in die ou dwaasheid is goed, waarom iets nuuts waarmee `n mens geen ervaring het van hoe dit ontvang sou word en hoe daarmee geleef sou moes word nie?' Daarom is sulke verligte denkbeelde bedoel vir bepaalde plekke en moet soveel moontlik geheim gehou word om die gelukkigmakende waarde ten minste vir `n paar mense uit die groot wêreldmassa te behou. As so iets gemeengoed word, verloor dit sy waarde, word gou belaglik, en dan kraai geen haan weer daarna nie. Wat één - sê maar - mens kan doen, doen duisende hom gou na, sodra hulle maar enigermate in die saak ingewy word!

[14] En so, dink ek, sal hierdie origens goeie Heer uit Nasaret ook gou die lootjie lê, veral as hy Sy geheime wetenskap ook aan ander mense sal leer, soos wat ons dit regtig volmaak by daardie jong, mooi mensekind gesien het wat al `n meesterlike vaardigheid in wondersdoen bereik het!

[15] As `n leerling al sulke ongehoorde dinge te weeg bring, wat bly daar dan nog vir die Heer oor?! As die leerlinge goed kan swyg, kan in elk geval `n winsgewende instituut daarmee opgerig word solank `n mens die wêreldse maghebbers as vriende behou. Hulle steun wel graag sulke institute, wat vanweë hul buitengewone uitwerking heel geskik is om die volk daarmee in toom te hou deur groot beloftes vir die hiernamaals, gewoonlik bestaande uit loon of oneindige straf.

[16] Maar as die volk sulke geheime wetenskappe begin agterkom en helder wyn word vir die volk geskink, is dit klaarpraat! Die mense gaan dan alles kritiseer en belaglik maak, geen mens sal dan nog waarde daaraan heg nie en alle eens is so `n verhewe, besielende waarde onherroeplik verlore. Die mense gaan dan vervolgens nadink oor iets wat nog meer buitegewoon is, maar vind gewoonlik niks meer solank hulle verstandig bly nie. Maar na eeue, as die een of ander ou, soete domheid weer ingeburger is, kan `n avontuurlike slimmerd, as hy dit goed aanpak, weer `n volkie vir `n paar eeue aan hom bind. Probeer hy dit egter op `n dom manier, dan moet hy maak dat hy vinnig wegkom as hy heelhuids daarvan wil afkom.

[17] Kyk, ek is helaas geen profeet nie en daarvan was daar waarskynlik ook nooit of te nimmer een gewees nie! Maar ek waag dit om nou stellig te beweer dat die tempel homself met sy fantastiese swendelary nouliks nog `n eeu sal staande hou, ondanks al die veronderstelde versigtigheid! Want as so `n instelling eenmaal te veel winsbelus word, verraai dit homself gou, verloor die verhewe stralekrans en dan is dit klaarpraat met hom! Tweeduisend jaar skyn die langste periode te wees vir `n leer om homself te handhaaf. Dan verval dit tot niks en in `n kroniek kan `n mens dan nog net enkele brokstukke terugvind.

[18] Slegs die rekenkunde, wat die ou Fenisiërs uitgevind het en wat sterk deur die Egiptenare en Grieke uitgebrei is, kan nooit vergaan nie omdat dit waarhede bevat wat vir elkeen verstaanbaar, nuttig en daarom onverwoesbaar is.

[19] Maar enige ander leer wat van die mense allerlei offers vra en wat, as `n mens dit sy eie gemaak het, geen ander voordeel oplewer as die genesing van `n aantal siekes en daarby ook nog `n ander wonderkie in noodgevalle te doen nie, kan glad nie stand hou nie! Want ten eerste berus hierdie leer nie op `n wiskundig aantoonbare basis nie en ten tweede bly dit, selfs al doen die stigter sy uiterste bes daarvoor, nooit so eenvoudig en suiwer soos wat dit oorspronklik was nie.

[20] Gewoonlik begin `n mens met allerlei uitleggings, omdat elke stigter van `n leer altyd min of meer die ou mistieke aanhang en sy origens dikwels baie gesonde leer aanvul met allerlei onverstaanbare, mistieke brokstukke, wat hy eers waarskynlik self nie begryp het nie en waarvan die na hom nog minder kan verstaan. Stadig maar seker word so `n leer dan steeds meer omvattend, die ou mistieke daarin word altyd meer geheimsinnig, mense bou groot sale en verrig met doodernstige gesigte allerlei seremoniële handelinge om die volk die ou gewydheid van `n aanvanklik heel eenvoudige leer duideliker en nadrukliker onder oë te bring. Maar dit help alles niks, want met die loop van tyd word die mense deur allerlei verskynsels op die gebied van die natuur en deur die gesonde verstand, die oë geopen en met die hele ou leer is dit dan so goed as afgeloop, want die brokstukke wat nog hier en daar bewaar is, kan tog nooit weer tot één geheel gemaak word nie. - Kyk, so sien my gesonde mening daar uit, wat ek egter aan niemand wil en sal opdring nie."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205